Kerry Lee is lankal nie meer ’n onbekende naam in die musiekbedryf nie.  Sy is onlangs vir ’n Ghoema-toekenning benoem vir haar album Dans In Die Reën en haar eerste twee enkelsnitte, Hals Oor Kop en Op ’n Skaal Van 1 – 10, vanaf hierdie album, kan nog gereeld op radiostasies landwyd gehoor word. Sy het ook al gesig gewys op programme soos Jukebox, Weekend Live, JAM en vele ander.

Sy is gebore in Durban en het skoolgegaan by die Laerskole Witrivier en Nelspruit en het haar Hoërskool loopbaan aan die Hoërskool Zwartkop voltooi. Sy het groot bewondering vir kunstenaars soos Dolly Parton, Barbara Ray en Shania Twain en dit is daarom geen verrassing dat haar album ’n kombinasie van moderne country-musiek is nie.

Haar derde enkelsnit, Dans In Die Reën, vanaf haar gelyknamige album is ’n treffende liefdesliedjie, wat selfs die kritieste oor tevrede sal stel.

Dit gaan hoofsaaklik oor menslike gevoelens, veral die liefde. Die titelsnit lê my na aan die hart omdat dit gebaseer is op my persoonlike ervarings.  Ek hoop dat dit luisteraars weer van vooraf verlief sal maak op die liefde,” sê sy.

Hierdie lewenslustige brunet hou al vandat sy drie jaar oud is konsert en het op die ouderdom van elf self ingeskryf vir haar eerste Eistedfod. Sy het Patricia Lewis se liedjie, Jy Is Die Rede, gesing en dit was die begin van groot dinge.

Gedurende haar hoërskooljare, in Nelspruit, het sy gereeld aan kompetisies deelgeneem en is sy selfs genooi om in Mauritius en Engeland op te tree. Temaliedjies vir Love & Mortar en Street Rods Africa op DStv, ’n debuut-album, Vou Jou Arms Om My, in 2010, ’n optrede op die hoofverhoog by Innibos in 2011 en ’n nommer een-posisie op die Maroela Media Top 20-treffersparade met haar enkelsnit, Shut Up en Soen My, het aan haar ’n amptelike plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf besorg.

Dans In Die Reën bestaan uit elf snitte, waarvan nege oorspronklike werke is deur Vaughan Gardiner, Hugo Ludik en Roux Cloete.