Stof solank jou feesskoene af vir die immergewilde Madeliefie Makietie-fees wat vanjaar met ’n nuwe tuiste spog en vir die eerste keer op die bekoorlike Weskus-stranddorp Strandfontein gehou gaan word.

Die fees vind op Vrydag, 29 en Saterdag, 30 September plaas en 15 van ons land se top kunstenaars gaan op die verhoog wees. Dít sluit Bobby van Jaarsveld, Willem Botha, Die Broers, Pieter Koen, Andriëtte, Leah, Brendan Peyper, Lianie May, Juanita du Plessis, Jay, Neil Somers, Klikkerland, Lollos en Dobbelsteun en Lee Scott in.

“Dit is my heel eerste keer wat ek op Strandfontein, die juweeldorpie van die Weskus, gaan optree. Ek en my orkes sien baie uit daarna omdat die Weskus my baie na aan die hart lê en so ongelooflik mooi is. Ek kan regtig nie wag vir die fees nie,” sê ’n opgewonde Bobby van Jaarsveld.

Kaartjies vir vanjaar se fees is reeds by Computicket beskikbaar. As jy voor 31 Augustus by enige Computicket, Shoprite/Checkers of House & Home of aanlyn koop, kry jy 20% afslag met EarlyBird-kaartjies vir dag- of naweekbesoekers.

’n Nuwe opwindende toevoeging tot die fees is, Weskus Touchies. Die wedstryde sal op die Strandfontein-strand voor die lewensreddersgebou gehou word en spanne kan tussen 10:00 en 14:00 op 29 September inskryf. Jou span moet uit sewe spelers bestaan en inskrywings is R250 per span. Boonop is groot pryse op die spel.

Nóg ’n toevoeging tot die fees is die olifant-staproete wat Saterdag, 30 September, om 08:00 aangebied word. ’n Plaaslike gids sal stappers vergesel. Dié roete is 4 km lank en sal drie ure neem om te voltooi. Stappers moet hul eie toerusting en water/versnaperinge saambring. Skenkings ten bate van die Strandfontein Belastingbetalersvereniging van R10 per volwassene en R5 vir kinders, 7 jaar en ouer sal gevra word.

Mej. Madeliefie sal vanjaar op Woensdag, 6 September, om 19:30 by die sportsaal op Vredendal plaasvind. Die kaartjies vir die geleentheid beloop R200 per persoon en sluit ’n heerlike ete in. Die tema van die geleentheid is Moroccan nights en die kleredrag is semi-formeel/Marokkaans. Die gewilde Juan Boucher is die gaskunstenaar wat die gehoor deur die loop van die aand gaan vermaak. Diegene wat graag wil deelneem aan Mej. Madeliefie, meer oor die reëls van die kompetisie wil lees en ook die inskrywingsvorm aanlyn wil voltooi, kan so maak op die Madeliefie Makietie-webblad.

Besoek www.madeliefiemakietie.co.za vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word of by 0861 915 8000.

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op FacebookTwitter en Instagram.