Yollie, Boeboe, Ouboet en Hendrikkie – karakters uit die televisiereekse Orkney snork nie, Vetkoekpaleis en Molly en Wors – gaan binnekort vir nóg groter moleste op die dorp sorg wanneer dié gewilde karakters sáám op die kassie te sien gaan wees.

ʼn Splinternuwe komediereeks uit die pen van Willie Esterhuizen bring dié gunstelingkarakters weer bymekaar.

Die eindresultaat van dié samevoeging is ʼn komiese reeks met Frank Opperman as Ouboet van Orkney en Wors Visagie (Willie Esterhuizen), sy staatmakervriend, as entrepreneurs aan die buitewyke van Johannesburg. Beide karakters se vroue word ook in dié nuwe avontuur saamgesleep – Yollie (Sally Campher) en Molly (Liz Meiring) sorg dat die mans op hul tone gehou word.

Die kinders, wat nou al mooi groot is, maak ook gereeld hul verskyning in die reeks. Hendrikkie (Kaz McFaden) en Gielie (Wynand von Vollenstee) beloof om baie genot na die kassie te bring, terwyl Boeboe (Liane Heyl) terug is in al haar glorie. Die geliefde Boeboe het haar Vetkoekpaleis-hoedjie opgehang en is nou aan die stuur van die Beauty with Boeboe-salon.

Ouboet en Wors is vanaf Oktober 2017 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.