Ná die reuse loketsukses van flieks soos Pad na jou hart en Vir Altyd is die goue paartjie van die Afrikaanse silwerskerm, Ivan Botha en Donnalee Roberts, terug met ’n splinternuwe fliek, Stroomop!

Stroomop, speel af op die Oranjerivier in die Noord-Kaap. Dié rolprent, ook uit die pen van Donnalee en Ivan, volg vyf uiteenlopende vroue wat kop bo water probeer hou.

Dié keer is Ivan en Donnalee nie meer saam voor die kamera nie. Die span verwelkom die bekroonde Tom Marais as kinematograaf en Ivan maak sy debuut as regisseur.

“Soms moet ons met die stroom van die lewe vloei en soms moet ons stroomop roei om by ons lewensdoel uit te kom, dit is presies wat vir ons as ’n span voorlê met hierdie avontuur. Wat ’n voorreg om aan stuur van Stroomop te kan wees, of sal ek sê die gids te wees. Ek sien uit om elke een van die karakters te ontmoet en om geduldig en met soveel respek hulle stories te help vertel,” sê Ivan aan die tydskrif Sarie.

Alle bekende waters gaan darem nie verlaat word nie, want Donnalee sal die hoofrol vertolk. Haar karakter en vier ander dames gaan kykers op ’n opwindende avontuur neem. Hulle gaan saam moet veg teen trane, woede, vrese, pyn en om oorlewing tydens ’n river rafting experience op die Oranjerivier.

Donnalee het al talle films gemaak en rolle vertolk, maar hierdie projek is vir haar ’n nuwe uitdaging.

“Hierdie vroue se storie móét vertel word! Stroomop gaan ons uitdagendste projek nóg wees. Dit laat my maag draai en my hart vinniger klop, maar ek is reg vir hierdie uitdaging, reg om dit vierkantig in die oë te kyk, my roeispane te gryp en die diep donker rowwe waters emosioneel en fisies aan te pak,” sê sy.

Kyk die bekendstelling video hier:

Stroomop word op 9 Augustus 2018 landswyd deur Ster-Kinekor, Nu-Metro en onafhanklike teaters uitgereik en word Februarie en Maart 2018 in Johannesburg en Onseepkans in die Noord-Kaap verfilm.

Bly op hoogte deur Stroomop se Facebook-bladTwitter, en Instagram te volg.