Met sy albums 082Jy’s My FlavourGee Jou Hart ’n Breek en Kalm Voor die Storm het die gewilde sanger en liedjieskrywer Juan Boucher, musiekliefhebbers oorrompel en die treffermusiek-beoordelaars beïndruk.

“Om ’n sanger te wees, is nie ’n keuse nie: dit word vir jou gegee. As jou lande omgeploeg word en jy gebruik dit om jou pyn, hartseer en teleurstellings te hanteer en om ander te inspireer, is dit ’n gawe van Bo. As ’n liedjieskrywer moet dit uit jou hart en siel kom. Musiek vorm ’n groot deel van ’n mens se lewe en daarom is dit vir my ’n voorreg om iets terug te gee,” sê Juan.

“Hierdie album is vir my baie belangrik – om te kan sê dís wie ek is. Ek lewe nie volgens die algemene opvatting van hóé ’n kunstenaar moet lewe nie. Ek geniet wat ek doen, ongeag wat wie van my dink of sê. Dit is ook nie vir my ’n kompetisie nie, dit is nie vir my werk nie. Dit is vir my ’n droom – ’n lewe wat baie vryheid gee om te kan doen wat ek doen – sónder om myself te verduidelik.” 

Dié goueplaat-bekroonde kunstenaar se passie en erns vir musiek, is die dryfveer agter en die stempel op sy puik nuwe album, Dis Wie Ek Is. “Die lirieke op my album Dis Wie Ek Is is verskriklik strak, anglisisties en liefdevol – met die idee van oorwinning wat die groot rol speel. Ek wil nie hê mense moet dink ek spartel of struikel nie, ek wil hê hulle moet kan hoor dat musiek aan my ’n lewe bied. Ek is nie hartseer nie, ek is filosofies. Ek het altyd my loopbaan alleen aangepak en nou het ek ’n hele span agter my. Ek wil hê mense moet weet dat ek nog baie liedjies gaan uitreik, een na die ander én beter as die voriges. Ek sit myself onder druk om een van die beste skrywers te word sodat my kinders my gedagtes met trots kan ronddra. Ek kan dalk vergaan, maar my musiek nooit ooit nie. Solank my God my gesond hou, sal ek skryf en skryf. Solank Hy almal om my gesond hou, kan ek in hul ore fluister: ‘Luister – en hou vas aan jou drome’. Dit werk vir my!”



Juan het al die Afrikaanse liedjies op die nuwe album geskryf, met ’n Engelse bydrae uit die pen van die mede-verwerker, musikant en vervaardiger, Byron Keno.

“Ek gun myself gewoonlik ’n paar maande om ’n goeie album te skryf. Ek toer baie deur die land en beleef baie nuwe plekke en nuwe mense. Elke dag gebeur daar iets wat ek nooit sal vergeet nie. Ek hoef nie liedjies te gaan soek nie, liedjies tref my eerste. Ek voel baie geseënd om elke keer ’n hele album te skryf, in plaas van net ’n paar liedjies.”

“Dié album beteken vir my baie. Dit is vir my soos ’n nuwe huis wat ’n mens bou met nuwe kamers en nuwe verf op die mure. Dit gee jou daardie lekker gevoel van ek het dit met my eie twee hande gedoen. Soos ek nou al agt jaar lank in die bedryf rondbeweeg, het ek besef my liedjies beteken baie vir mense wat daarna luister. Dit begeester hulle om goed oor hulself en die lewe te voel. My liedjies is my kinders. Ek sien hoe word hulle voor my oë groot. Die grootste plesier vir my is as ek sien hoe een van my liedjies ’n glimlag op ’n skaam gesig bring – dán glimlag ek terug.”