Suid-Afrikaanse fietsryers – beide padfiets- en bergfietsryers – is van die mees geseënde ter wêreld, met ’n reuse verskeidenheid verskillende roetes en terreine. En nou het hulle die geleentheid om ’n goeie daad te doen en ook baat te vind daarby.

Terwyl opgewondenheid toeneem vir die jaarlikse Ride2Nowhere-fietsrywedren, het Pedal Power Association (PPA) en Bicycling Empowerment Network (BEN) kragte gespan met tegno-reus WeChat en fietsry-app Engena om vir jou, die fietsryer, die geleentheid te bied om gratis te ry en terselfdertyd by te dra tot die opheffing van ’n plaaslike gemeenskap.

“Die proses is eenvoudig; laai die WeChat-app vir iOS of Android af in die app-winkel. Registreer met Engena se WeChat OA en skaf dan ’n dagpermit aan om die Jonkershoek-, Helderberg Farm-, Greyton-Genadendal-, Marloth- of True Grid-roete te ry,” sê Erik Kleinhans (ook bekend as Lion King), internasionale professionele fietsryer en Engena-ambassadeur. “Die koste vir elkeen van dié roetes kom neer op sowat R50 en die transaksie is eenvoudig, doeltreffend en kontantloos.” Hier raak dit knap – vir elke dagpermit wat jy aanskaf, skenk Engena R50 vir ’n liefdadigheidsfonds en gee jou R50 via jou Wechat Wallet terug (jip, jy’t reg gelees).

Die liefdadigheidsfonds is opgestel vir Young Warriors – ’n inisiatief wat in September 2016 begin is deur WeChat en Ride2Nowhere – om nuwe fietse aan te skaf. Young Warriors poog om die jeug in agtergeblewe gemeenskappe ’n hupstoot te gee deur graad 8- tot 12-leerders bloot te stel aan fietsry en om hulle ook in te skryf vir fietsrywedrenne.

“Beide PPA en BEN sal elke fiets wat deur die liefdadigheidsfonds aangeskaf is, ewenaar deur elkeen nog ’n fiets aan Young Warriors te bemaak,” sê Kleinhans.

En dit raak nog beter. Vir elke permit wat jy aanskaf, staan jy die kans om ’n gratis inskrywing te wen vir die drie dag lange Ride2Nowhere op McGregor van Vrydag, 8 tot Sondag, 10 September! Inskrywings vir die wedren het reeds gesluit, so sien dit as jou heel laaste kans om ’n plek los te slaan.

“Ons vertrou fietsryers sal die geleentheid met ywer aangryp, siende dat die konsep van bydraes tot liefdadigheid en terselfdertyd die ontvangs van ’n terugbetaling, ’n geleentheid is wat té goed is om nie aan te gryp nie,” sê Kleinhans. “Soos enige ware fietsryer maar te goed weet, begin die regte pret eers sodra dit tussen ’n klomp fietsryers gedeel word.”

Om meer uit te vind oor Ride2Nowhere 2017, besoek hul webtuiste.