Elkeen van ons smag een of ander tyd na ’n nuwe begin. ’n Tweede kans om ons drome te bewaarheid. Stella se debuut solo-album, Nuwe Môre, verteenwoordig nie net die nuwe rigting waarin haar musiekloopbaan gaan nie, maar is ook iets waarby luisteraars aanklank sal vind. Die CD bestaan uit twaalf mooi, oorspronklike kontemporêre snitte, wat haar gevoelvolle stem komplementeer en selfs die mees kritiese luisteraars in vervoering sal hê.

Dié talentvolle sangeres en liedjieskrywer is geen nuweling in die musiekbedryf nie. Sy is deel van die gospelgroep, Duis:Lig, wat in 2015 ’n Ghoema-toekenning vir Beste Gospel Album gewen, ’n toekenning wat hulle onlangs weer ontvang het. Die groep het ook reeds twee Huisgenoot Tempo-benoemings ontvang. As sangeres, is sy ook genomineer vir twee SAMA’s en ’n Huisgenoot Tempo-toekenning onder haar vorige verhoognaam, KrissTel. Sy het later besluit om saam met die bekroonde vervaardiger en klankingenieur, Jake Odendaal (wat die afgelope vyftien jaar saam met kunstenaars soos Joe Niemand, John Ellis van Tree63, Elvis Blue en Joe Foster werk), te begin bou aan ’n nuwe solo-loopbaan.

Haar eerste enkelsnit en musiekvideo, Nuwe Môre, is in April 2016 uitgereik. Beide is ongelooflik goed deur radiostasies ontvang, met ’n plek in die top 20 van talle treffersparades. Dit word ook gereeld op die kassie gesien. Die tweede enkelsnit, Deur Die Liefde En Die Seer, is pas uitgereik en bou voort op die sukses wat sy reeds behaal het.

“Hierdie liedjie is vir al die paartjies wat klippe kou. Die huwelik is nie altyd maanskyn en rose nie. Dit is so maklik om perspektief te verloor en heeltemal te vergeet hoekom julle oorspronklik verlief geraak het. Dit is belangrik om ’n anker te hê, veral in die moeilike tye. Ek en my man het ook al groot klippe gekou, maar die liedjie het ek spesifiek geskryf toe ’n hele paar van my vriende almal gelyktydig deur onstuimige waters in hulle huwelike gegaan het. Ek hoop dat dit, wie ook al met die liedjie identifiseer, help om die mure af te breek en weer te probeer,” sê sy.

Sy is ook opgewonde oor die vollengte album, wat op 28 April 2017, bekendgestel is en beskryf dit as modern en kontemporêr met ’n bietjie pop- en folk-elemente. Hulle werk sedert 2013 aan die inhoud. “Ek wou liedjies insluit wat reflekteer wie ek as kunstenaar en mens is. Dit is ’n nuwe rigting vir my loopbaan en daarom is die titel gepas. Alhoewel ek die meeste van die liedjies self geskryf het, is daar ook ’n paar waaraan ek saam met Jake Odendaal gewerk het. Hy is ’n baie begaafde musikant en liedjieskrywer. Die grootste uitdaging was om my eie klank te vind. Ek hou van te veel goed en ’n mens moet balans vind tussen jou eie voorkeure en waarvan ander mense hou. Luisteraars kan uitsien na kwaliteit Afrikaanse musiek, met baie diepte en ’n verskeidenheid klanke. Een liedjie verklap nie die res van die album nie. Daar is iets vir almal om mee te vereenselwig. Ek wil hê dat my musiek mense hoop gee, dat dit hulle moet seën en laat goed voel,” vertel sy. Die Berge Blou is tans haar gunsteling, maar sy is ook mal oor Onthou Jy Nog, omdat dit haar aan haar kinderdae herinner. Die album is beskikbaar op alle digitale platforms, insluitend iTunes, Apple Music, Google Play Music en MiTracks.

Stella, oftewel Christelle Combrink, het in Welkom grootgeword. Sy was van kleins af lief vir musiek. “My ouers was, en is, albei musikaal. My pa het baskitaar en kitaar gespeel en gesing en my ma speel ook klavier en sing. Die huis was altyd vol musiek. Ek het al voor skool liedjies op die klavier uitgewerk en dan vir my juffrou by die kleuterskool gespeel,” deel sy.

Alhoewel sy reeds nege jaar professioneel sing en liedjies skryf, het haar groot deurbraak gekom toe sy en Hennie Maritz Duis:Lig begin het. “Voor Duis:Lig was ek ’n solo-kunstenaar in die gospelmark onder die naam KrissTel en my twee albums, Made To Be Loved en Opstaan is albei vir SAMA-toekennings benoem in 2009 en 2011. Laasgenoemde is ook vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning genomineer in 2011. Alhoewel dit my passie was, het ek baie alleen daarin gevoel. Nou is ek deel van ’n span en ons deel die hart, neem saam besluite en bedien saam.”

Net soos haar uitsonderlike, veelsydige stem, is Stella ook ’n vrou van vele talente, met baie hooi op haar vurk. Wanneer sy nie sing nie, is sy ’n boervrou op hulle plaas in Carolina en ma van ’n agt maande oue dogtertjie. Sy is ook mede-bestuurder van hulle gastehuis en trou-venue, Acorn Guest Farm.

“Ek is bevoorreg genoeg om twee goed te doen waarvoor ek lief is. Toe ek op die plaas kom, het ek gedroom oor ’n trou-venue (en natuurlik my sangloopbaan) en agt jaar later is beide drome bewaarheid. Dit is vir my lekker om hierdie seëninge met ander te deel. Ek is so lief vir ons plaas en dit is so mooi vir my hier – ons wou dit graag met ander deel,” sê sy.

As jy haar vra wat sy die meeste geniet – sing of om musiek te skryf, sê sy: “Ek geniet beide. Skryf is so bevredigend en ek voel altyd on top of the world as ek ’n liedjie geskep het waarmee ek tevrede voel. Die verhoog is lekker omdat jy die vrug sien van die saad wat jou pen geplant het. Die heel beste is om te hoor hoe sekere liedjies mense laat voel en wat dit vir hulle beteken. Wanneer ek skryf vir Duis:Lig, is dit gewoonlik oor wat God in my lewe kom doen het of inspirasie uit die Woord. Die skryf van my Stella-liedjies laat my toe om op ’n ander manier kreatiewe uiting te gee aan wat ook al my hart roer of my verbeelding vasvang.”

Sy beskryf haarself as ’n gemaklike en ontspanne mens wat daarvan hou om haar doel uit te leef. Sy is mal oor geestelike musiek soos Bethel, Chris Tomlin, Meredith Andrews, Vertical Church en Elevation Worship, maar het ook waardering vir Ed Sheeran, Brandi Carlile, John Mayer, Elvis Blue, Laurika Rauch en Riana Nel se werk.

“ ’n Kombinasie van al hierdie mense het beslis ’n invloed op my eie musiekstyl. Elvis Blue is vir my ’n inspirasie omdat ek baie met hom identifiseer. Ek is ook mal oor hoe hy sy vertonings saamstel en hoe dit my laat voel. Dit het diepte, dit is lekker, dit is mooi en dit trek my in.”  

Die musiekbedryf het haar oor die jare geleer om geduldig te wees en haarself met die regte span mense te omring. Sy moes al baie groot uitdagings in haar persoonlike en professionele lewe oorkom en fokus daarop om ’n goeie, gelukkige, gesonde leefstyl en gesinslewe te hê. “Ek beleef hoe God vir my al die regte deure op die regte tyd oopgemaak het, voel gereed hiervoor en wil maar net my ding doen. Optree, weer skryf en opneem, aan die Stella-handelsmerk bou en saam met Duis:Lig bedien met lof en aanbidding,” sê sy oor haar planne vir die toekoms. Net soos Hans Christian Anderson, glo Stella dat musiek praat waar woorde nie genoeg is nie. Haar eie musiek getuig hiervan en ons kan nie wag om te hoor wat sy in die toekoms deel nie.

Laai JOOX gratis af in die Google Playstore of App Store en luister na Stella en van jou gunsteling kunstenaars se musiek.