’n Lekker resep vir spaghetti bolognese is altyd ’n wenner en elke mens moet so ’n resep in hul agtersak hê vir ’n noodgeval. Dit is ’n heerlike gereg wat baie honger magies sal voed. Dit is ook ’n lekker resep om in grootmaat te maak, omdat dit gerieflik gevries kan word. Hierdie resep is maklik om te maak en na die eerste probeer slag maak jy dit sommer toe oë!

Hierdie resep maak genoeg vir 5 – 6 mense.

Bestanddele

15 ml olyfolie

1 ui, fyn gesny

3 knoffelhuisies, fyngekap

800 g beesmaalvleis (as jy nog oorskiet wil hê kan jy tot 1.5 kg maalvleis gebruik)

vleisspeserye (Ina Paarman se “meat spice” werk goed)

2 blikkies tamatie- en uie-mengsel

200 – 400 g sampioene, gesny

50 g tamatiepuree

bietjie rooiwyn (in jou glas en vir die kos)

15 ml Worcester-sauce

15 ml blatjang

gemengde speserye (Ina Paarman se mixed Italian herbs and garlic werk goed)

origanum, pietersielie en roosmaryn na smaak

sout en swartpeper na smaak

spaghetti, gaargemaak en gedreineer

Metode

  1. Maak die olie in ’n groot kastrol warm. Sodra dit warm is, braai die uie, knoffel en die helfte van die sampioene tot die uie deurskynenend word, dit behoort so 3 tot 4 minute te neem.
  2. Hou die plaat op ’n hoë hitte en voeg die ontdooide maalvleis by. Sprinkel die swart peper en die speserye oor die vleis en roer goed. Terwyl jy die maalvleis gaarmaak, voeg die Worcester-sous, blatjang en rooiwyn by. Maak seker om goed te roer sodat die vleis nie aanbrand nie.
  3. Sodra die maalvleis gaar is en die vloeistof weggekook is, gooi die twee blikkies tamatie- en uie- mengsel asook die tamatiepuree by. Indien jy die resep bietjie wil aanpas kan jy ook opgesnyde wortelstukkies of ertjies byvoeg.
  4. Sodra die mengsel begin borrel, verlaag die plaat se hitte, sodat dit lekker prut en die bestanddele gesels en mekaar beter leer ken. Voeg die oorblywende sampioene by.  Roer elke 10 minute goed deur en laat dit vir 30 minute prut.
  5. Maak die spaghetti gaar soos op die verpakking aangedui en maak dit in ’n aparte pot. Laat dit dreineer en afkoel.
  6. Sodra die bolognese mengsel gereed is, kan dit bo-op die spaghetti bedien word. Sprinkel vars pietersielie oor en sit saam met rooiwyn voor. Indien jy baie van kaas hou kan jy gerasperde cheddar of parmesaan ook oorstrooi.

En voila! As daar baie bolognese oorbly, kan dit gevries word vir ’n aand waar jy te lui is om kos te maak, of vir wanneer die kinders in die middag iets soek om te eet. Dit is ook lekker op ’n roosterbroodjie saam met ontbyt. Die opsies is eindeloos!

Hierdie resep is verskaf deur MyMatzikama. Besoek hul webblad by www.mymatzikama.com vir nóg heerlike resepte.