Melktert is ’n gereg so ná aan meeste mense se harte, veral as ouma dit gemaak het soos net ’n

ouma kan dit doen – die vulsel wat wegsmelt in jou mond en die verskillende geure wat jy kan proe. Hieronder volg ’n heerlike melktertresep.

Soet broskors:

125 g botter
125 ml suiker
1 eier, liggies geklits
500 ml meel, gesif
5 ml bakpoeier
1 ml sout

  1. Verroom die botter en suiker totdat die mengsel lig en romerig is.
  2. Klop die eier in en roer dan droë bestanddele by en roer liggies.
  3. Plaas dit in ’n bak, bedek met kleefplastiek en verkoel vir 20 minute.
  4. Rol uit en gebruik om 2 tertborde of 36 kolwyntjiepanne uit te voer.
  5. Verkoel om krimping te voorkom.
  6. Prik bodem met ’n vurk en bak blind by 200 grade vir 10 tot 20 minute.

Melktert vulsel:

1 liter melk
45 ml botter
3 eiers
100 ml suiker
25 ml vlapoeier
45 ml meel
7 ml vanielje
kaneel

  1. Plaas melk en botter in ’n kastrol.
  2. Bring tot by kookpunt en verwyder van hitte.
  3. Klits die ander bestanddele by en meng goed.
  4. Voeg ’n bietjie van die warm melk by die mengsel en roer.
  5. Voeg die mengsel by die warm melk en meng goed.
  6. Plaas oor matige hitte en laat stadig kook totdat mengsel verdik, roer dit aanhoudend.
  7. Plaas die vulsel in die gebakte tertdoppe en laat afkoel.

Geniet.

Hierdie resep is verskaf deur MyMatzikama. Besoek gerus hul webblad vir nóg stories.