Soos die ligte op 27 September in die Centurion Teater verdof het, het daar ’n atmosfeer van opwinding geheers voor 1925Band hulle verskyning op die verhoog gemaak het. Selfs die Bravo!-span het reg gestaan om die oomblik op kamera vas te vang.

Die klanke van bemeesterde instrumente en perfekte harmonieë het die lug gevul en mens het dadelik die gevoel gekry van ’n goeie aand wat voorlê.

1925Band se persoonlike en sjarmante optrede het mens dadelik welkom laat voel asof dit jou eie familie is wat daar op die verhoog staan. Mens kan nie help om net onmiddellik van hulle te hou nie. “Ons is hier om familie te maak, nie ‘fans’ nie”, sê David-Lee, een van die groeplede.

Die aand was ’n reuse sukses soos aanhangers die nuwe klanke geniet het van hul debuutalbum. Liedjies soos Maak Dit Regtig Saak, Johny And The Monkey, Al Te Min Te Veel Gevra en selfs ’n Spaanse weergawe van Eintlik Nogal Baie genaamd Ahora Que Lo Pienso is opgevoer.

Die broers het ook die gehoor verras met ’n onbeplande opvoering van Emosionele Natuur. “Ons het onsself belowe ons sal hom nooit lewendig opvoer nie omdat dit soveel betekenis vir ons het. Ons sukkel om hom te sing,” sê David-Lee. ’n Spesiale oomblik in die vertoning was toe 1925Band ’n laaste minuut keuse gemaak het om hul harte met die gehoor te deel.

Ongekende talent met harte van goud is al hoe mens 1925Band kan opsom. Daar is baie om na uit te sien in híérdie orkes se loopbaan. Hou ook dop vir ’n Bee Gees Huldeblyk-toer wat in die pyplyn is.

Kry jóú kopie van Eintlik Nogal Baie by www.1925band.co.za vandag.