Je-ani Swiegelaar beter bekend as Noami van Binnelanders, maak haar debuut met die verhoog-produksie, Sê my naam soos ’n Starbucks knaap, by Aardklop 2017 in Potchefstroom.

Die produksie gaan oor, Annetjie “Vleis” de Vries wat op die lughawe sit en wag vir haar vlug na Amsterdam. Sy het nou genoeg gehad van haar lewe as die oudste van dertien kinders – wie sy alleen moet oppas, aangesien haar suiplap-pa net mooi bôggerol omgee. Met haar troetel-marmot aan haar sy wil sy ’n nuwe blaadjie omslaan in Europa en haarself bietjie begin eerste plaas. Laat Annetjie jou meer vertel oor haar beste vriend Sarel Meintjies, haar rampspoedige matriekafskeid en die Starbucks-kelner wat haar hart omgedop het.

“Sê my naam soos ‘n Starbucks knaap” is ’n eenvrouvertoning met hart, murg en artisan-koffie.

Die vertoning sal jou lekker laat lag in Afrikaans. Vir slegs R125 kan jy en jou vriende of familie vir ‘n uur lank terug sit, en net die verhoogstuk geniet. Daar is wel ’n ouderdomsbeperking van 13 jaar.  

Die regie en stelontwerper van die produksie is Gerrit Schoonhoven, verhoogbestuurder is E-Andri Swiegelaar, vervaardigers is Gerrit Schoonhoven en Je-ani Swiegelaar. En die skrywer is Wessel Pretorius.

Die verhoogstuk word opgevoer op 3 Okt 09:30, 4 Okt 16:00 , 5 Okt 13:00, 6 Okt 20:00, 7 Okt 20:00.

Moenie die geleentheid misloop nie. Kry jou kaartjies nou by Computicket.