Vandag is natuurlik Vuurwarm Vrydag en natuurlik sal ons julle nie teleurstel met ons witwarm Instagram Model van die Week nie. Dié week het ons ’n lang donkerkop met broeiende blou oë wat sy eie besigheid het, modelwerk doen en boonop ’n sixpack het wat skrik vir niks.

Die dodelik aantreklike Arnu de Villiers is 27 en woon in Johannesburg. Hy is gebore en getooi op ’n plaas naby die klein dorpie Barberton, Mpumalanga. Ná skool het hy siviele ingenieurswese gaan studeer by TUT in Pretoria.

“Ek het net bietjie meer as ’n jaar in die praktyk gewerk toe ek besef het dis nie wat ek vir die res van my lewe wil doen nie. Ek is toe blootgestel aan die digitale bedryf en het vir ’n kort tydjie by ’n digitale firma (Lumico) gewerk voor ek my eie besigheid begin het wat meer fokus op webtuiste-ontwerp en aanlynbemarking vir klein besighede.

In sy vrye tyd doen hy ook modelwerk. Hy is baie passievol oor gesondheid en fiksheid en jy kan hom gereeld in die gym vang! Arnu hou van rustig kuier met ’n paar goeie vriende of net alleen tyd deurbring by die huis en rus. Hy hou van reis en is mal daaroor om nuwe lande te verken.

Raad oor oefening en gesond eet

“Sjoe, dit is seker die moeilikste vraag… Vir iemand wat altyd goed moet lyk en “in shape” moet wees, is dit moeilik om soms by ’n skoon dieet en leefstyl te bly. Met een soettand te veel vaar ek graag in chocolate en pastries in! Nee ek grap, dit is wel baie moeilik om soms terug te hou maar ’n goeie balans is die antwoord. Asook natuurlik konsekwensie! Dis heelwaarskynlik die mees belangrikste sou ek sê.

“As dit by eet kom, het ek ’n baie goeie roetine. Sondae doen ek die week se inkopies en berei dan twee dae se kos vooruit en so volg ek dan op elke tweede dag met die volgende twee dae se beplanning en kos (sover mens kan). Ontbyt (meestal eiers) word natuurlik elke oggend gemaak, dan middeloggend het ek ’n snack (tuna en dan ’n appel), middagete is hoender en dan wissel ek die groente van tyd tot tyd af maar dis meestal net gestoomde groente (geel en groen), saam met of rys of quinoa (gesonder opsie met minder carbs), middelmiddag eet ek amandels en ’n proteïenskommel. Aandete is stokvis of hoender met baie groente! Net voor ek in die bed gaan klim eet ek twee pomelo’s (dit help vet verbrand). Om dit makliker in te neem versap ek dit en drink dit – baie vinniger!

Arnu oefen twee keer per dag – cardio in die oggend vir tussen 30-45 min en dit wissel meestal tussen fietsry, draf en roei. Saans doen hy gewigte, gewoonlik saam met ’n vriend. Die rede hiervoor is dat dit hom motiveer om harder te oefen en daar is iemand wat jou kan spot en sodoende kan mens swaarder oefen en vinniger resultate sien. Hy meen aanvullings is baie belangrik. Jy sit druk op jou liggaam deur hard te oefen en daarom het jy die regte voedingstowwe soos vitamiene, minerale en proteïne nodig.

Modelwerk

“Ek sal nie sê dit was ooit ’n droom nie. Ek het hier en daar model gespeel vir vriende wat fotografie studeer het en dis waar ek ’n paar goeie foto’s gekry het en soos sosiale media maar sy ding doen, het mense dit gesien en is ek genader deur ’n modelagentskap. Van daar het nie veel gebeur nie – dit was net toe ek begin werk het en castings val mos altyd op die onmoontlikste tye. Na ’n ruk het ek besluit om ordentlike foto’s van my te laat neem en het baie saam een van my vriende gewerk om my eie “brand” aanlyn te begin bou. Dis toe waar ek weer deur ’n agentskap genader is (waar ek tans is – District Models JHB)

Hoe pas jy alles in?

“Dis tough! Soms weet ek ook nie waar ek tyd kry vir al die dinge nie, maar ek is wel bevoorreg aan die eenkant met dié dat ek my eie besigheid het en meer buigbaar is met my tyd. As mens goed beplan kan mens tyd maak vir alles. Hoewel mens soms lekker uitgeput raak!”

Maar Arnu meen dis alles beslis die moeite werd. “Solank mens vorentoe beweeg en voel mens bereik iets, is dit ’n positiewe en opbouende gesindheid wat mens net meer motiveer om dit alles te kan doen!”

Hoe bly mens positief in die modelbedryf?

“Ek kan nie sê dat ek al ooit ’n negatiewe model-ervaring gehad het en afgekraak is oor hoe ek lyk nie. Die bedryf is op en af, elke seisoen soek hulle ’n ander soort look. Soms gaan jy werk en soms gaan jy nie. Dis glad nie ’n bedryf waar jy enigiets persoonlik kan opvat nie, maar tog moet jy weet dat dit harde werk vereis om altyd jou beste te lyk. As jy dit besef en by dit hou, sal jy nooit negatief geraak word of ’n negatiewe ervaring hê nie.

“Ek het nog altyd ’n prentjie van hoe ek wil lyk (almal het en behoort te hê), maar mens moet ook realisties wees en net werk om die beste te wees wat jy kan. Dit gebeur nie oornag nie – ek werk al baaaaie lank in die gym om te wees waar ek vandag is en glo my ek’s nog ver van waar my ‘prentjie’ is) The hustle never stops! Werk, werk, werk en met deursettingsvermoë kom mens elke dag ’n tree nader.

Was was die keerpunt wat jou gemaklik in jou eie vel laat voel het?

“Mmmm, ek sal nie sê ek het ooit ongemaklik gevoel oor enigiets nie. Ek dink die digitale en aanlynplatforms het so vinnig gegroei en gevorder en het so ’n belangrike faktor in ons lewe geword dat mens saam dit moet groei. Om ’n aanlyn-naam vir jouself te skep is so bemagtigend en daar’s al hoe meer waarde daarin. Ek het gegaan van ’n baie meer persoonlike profiel met baie teenstrydighede tot ’n meer gestruktureerde handelsmerk. Ek weet watter beeld ek daar buite wil sit terwyl ek dit steeds eg hou en myself is, maar met ’n doel en soort van eindbestemming wat ek wil bereik – as mens dit so kan stel.

“Ek kry weekliks boodskappe van mense wat vir my dankie sê vir die voorbeeld wat ek stel en dat hulle opkyk na my – en dis lekker om te weet ek sit iets daar buite wat iets vir iemand beteken en dis presies wat ek wil doen. Hoe meer ek kan teruggee met my inhoud en wat ek doen, hoe beter – en dis die handelsmerk wat ek wil bou.”

En op die volgende vraag, “Moenie laat enigiemand…”, antwoord hy: Jou lewe vir jou dikteer nie – dis joune om te lewe!

Volg vir Arnu de Villiers op Instagram by @arnu_de_villiers op Instagram en hou gereeld ons sosiale media blaaie dop dié week vir opwindende brokkies oor dié model.

Ons wys elke Vrydag iemand op Instagram aan as Instagram Model van die Week. As jy op Instagram is en jy dink jy het alles en nóg waarna ons soek, of ken jy iemand wat jy dink ons Instagram Model van die Week kan wees, kontak ons asseblief by sterrenuus@lumico.co.za.