Ná die sukses van hulle debuut-album wat in Mei 2016 vrygestel is, is die manne van DZL terug met ’n splinternuwe enkelsnit genaamd, Die Hele Wêreld. Eie aan die titel van die enkelsnit is Andries en Wiaan gereed om weer die wêreld aan te pak met nuwe klank en musiek.

“Soos julle teen dié tyd weet kan ons net nie stilsit nie en moet ons altyd aan die gang bly; of dit nou op die verhoog of in die bos tussen die renosters is. Dit was ’n ongelooflike besige jaar en ons het die afgelope paar maande hard in die studio aan ons nuwe liedjies gewerk. Met hierdie eerste enkelsnit kyk ons die lewe en die wêreld reguit in die gesig en sê; kom wat wil, ons lewe elke dag voluit,” vertel Andries.

Die liedjie is ook die eerste snit van hulle nuwe album wat vroeg in 2018 die lig gaan sien en is geskryf deur Rouxan Cloete wat ook vir ander treffers verantwoordelik is. Die liedjie se produksie was weer in die bekwame hande van bekroonde vervaardiger, Christie Schutte, gelaat, wat ook by DZL se debuut-album betrokke was.

“Ons het nie van ons wenresep afgewyk nie, julle sal steeds die kenmerkende country-pop klanke hoor maar ons het sedert ons eerste album bietjie aan ons klank geskaaf en weet sommer die gehoor gaan baie van die nuwe aanslag hou,” vertel Wiaan.

Dit was ’n ongelooflike jaar vir die twee sangers, Andries en Wiaan, wat ook ’n kykNET Ghoema nominasie vir Beste Country-album ontvang het. Hulle is ook deur die publiek genomineer vir Gewildste Duo/Groep.

Hulle is ook baie opgewonde oor die musiekvideo van die nuwe enkelsnit wat eersdaags vrygestel gaan word.

“Ons het ‘n lekker verrassing wat wag met die nuwe video en ons kan nie wag dat julle dit sien nie. As ons ietsie kleins kan verklap; ons het gedeeltes daarvan in Kenia geskiet,” sê Andries.

Laai ook JOOX gratis af in die Google Playstore of App Store en luister na jou gunsteling kunstenaar se musiek!