Shadine van der Merwe het alles gewen wat daar te wen is in Suid-Afrikaanse netbal en het elke moontlike nasionale span gehaal teen ouderdom 24. Volgens haar is daar nog die Statebondspele in 2018 om na te streef en dit is haar korttermyndoel.

Toe Tuks die Varsity-titel verlede Maandag gewen het, het Van der Merwe die 11de speler in Suid Afrika geword om al vier groot titels te verower – die Brutal Fruit Netball Premier Liga (BFNPL), Spar nasionale kampioenskap, Varsity Netball en die USSA-toernooi.

Die drie groot trofees wat sy vanjaar gewen het, was vir die BFNPL, Spar nasionale kampioenskap en Varsity Netball. Van der Merwe het die USSA-titel in 2012, 2014 en 2015 gewen.

Saam met dit het sy die Spar Proteas verteenwoordig (in vier toetse in 2015), die SA Fast50-span (2013 en 2014), die Spar Baba Proteas (in 2012 en 2013), ’n SA Uitnodigingspan (2013), ’n SA o.23-Uitnodigingspan (2014) sowel as die SA Studente in 2014.

Boonop is die gewilde Van der Merwe al twee keer gekies as die Speler van die Toernooi by die Spar nasionale kampioenskappe, was al twee keer verdediger van die BFNPL, die Varsity Netbalspeler van die seisoen sowel as die Varsity-spelers se Speler van die seisoen.

“Op die einde van die dag gaan dit daaroor om myself te motiveer, om nooit op te gee nie en om God se tyd te vertrou,” sê van der Merwe. Dit was ’n baie spesiale jaar vir haar, haar spanlede en afrigter, Jenny van Dyk, om die trofees te wen by Varsity, BFNPL en die nasionale kampioenskappe.

Aan die begin van die jaar sou dit ’n brawe persoon gevat het om dit te kon voorspel, veral as jy in ag neem dat die Gauteng Jaguars en Tuks sonder die dienste van Melissa Kotze, Lenize Potgieter, Lindie Lombard, Ané Botha sowel as Chanelle Swart en Izette Griesel was gedurende die nasionale kampioenskappe and Varsity-toernooi.

“Dis omdat ons as ’n span saam speel en die jonger spelers op ’n hoë vlak speel-geleentheid gee dat dit moontlik is vir ons om diepte te bou en in die proses aan verwagtinge te voldoen.”

Die finale Varsity-reeks teen NWU-Pukke was haar heel laaste toets vir Tuks vandat sy haar debuut vir hulle gemaak het in 2012. Dit was die eerste keer in 5 probeerslae dat Tuks dit kon regkry om die kompetisie te wen. Verlede jaar het hulle met ’n enkele doel in die eindstryd verloor.

“Ek kon nie my Tuks-loopbaan op ’n beter manier eindig nie. Dit was beslis een van my loopbaanhoogtepunte. Ek het soveel vrede in my hart gehad to die laaste fluitjie blaas.”