Die sprankelende twintigjarige Natasha Joubert van Pretoria is ’n doelgerigte meisie met die spreekwoordelike brains en beauty én boonop hope talent. Sy is vasbeslote, avontuurlustig en haar familie is vir haar alles. Met ál hierdie eienskappe was ons dus genoop om haar vandeesweek se Instagram Model van die Week te maak.

Slimkop Natasha, tans besig met om sakebestuur te studeer, is een van drie kinders (haar broer en suster het pas saam prokureurs geword) van ’n enkelouer-ma wat ’n bankbestuurder is. Haar pa is oorlede toe sy 16 was. “My liefste moeder stel beslis die voorbeeld. Sy het in 2015 haar besigheidsgraad ontvang en studeer tans regte. Buiten dat sy bankbestuurder is, ontwerp en maak sy en ek ook klere as ’n stokperdjie. Ek is ’n familiemens en sien my oumie en gumpie elke dag.”

Met haar fietse lyfie en pragtige gesig is dit dan ook nie verbasend dat sy ook ’n suksesvolle model is nie. Sy doen gereeld fotosessies en neem aan kompetisies deel. En sy erken ook prontuit – “En ek is lief vir shopping” – soos elke normale 20-jarige is. “Ek is all about selfversorging en doen gereeld my naels, hare, gaan vir facials, en so bietjie retail therapy.”

Sy het Suid-Afrika verlede jaar verteenwoordig by die Miss Globe-kompetisie en het die top 5 gehaal en is as Mej. Bikini aangewys. Ander titels is Mej. Noord-Gauteng 2015, Mej. Jakarandastad 2016 en Mej. Tiener Jhb 2015.

En hoe op aarde kry sy reg dat daardie pragtige figuur altyd so goed lyk? “Ek eet oor die algemeen gesond omdat my lyf beter voel, en probeer twee keer per week by die gym uitkom (die struggle om dit te doen is real).  

“Ek glo jy behoort te eet jy wanneer jy honger is en dat jy gesond moet eet omdat jy wil, nie moet nie! As ek twee jaar terugkyk moet ek noem dat ek toe glad nie gesond geëet het nie. Nou voel ek dat my lyf gerespekteer moet word en ek dit wil doen om gemaklik in my lyf te wees en gesond te voel.”

Haar filosofie oor die lewe is net so verfrissend. “Die lewe is te kort om jouself terug te hou. Ek het ongelukkig baie laat besef hoe belangrik selfrespek is, en is deesdae baie gefokus daarop. Ek glo jy moet elke dag mooi na jouself kyk, van wat jy in jou mond sit, na wat uit jou mond uitkom (woorde) hoe gereeld jy gesig was ens., om te weet jy is gemaklik met wie jy is en hoe jy lyk.

“Dis belangrik vir my dat mense weet jy hoef nie soos ’n sekere “prentjie” te lyk nie. Solank jy die beste weergawe van jouself is, die gesondste jy, die gelukkigste jy en die beste jy is, sal jy die lewe meer kan geniet. Die lewe is veels te kort om dinge nie te doen omdat jy ongemaklik oor jouself voel nie. Niemand gaan in elk geval onthou watter kleur hemp jy gedra het ’n jaar gelede nie. Jy moet in jouself glo en na jou sterk punte kyk. If you are able to believe in Santa Clause for 8 years, you can believe in yourself for 5 mins.” Wyse woorde van ’n twintigjarige.

Haar grootste droom?

“My grootste droom vanaf ek 12 jaar oud was, was om eendag as Mej. Suid-Afrika gekroon te word. Vanaf 12 jaar oud het daardie droom nog nie verander nie. Ek wil ook graag eendag my eie modereeks hê en mense kan inspireer.”

En wat sal sy antwoord op die volgende vraag? Don’t let anyone…. “Dull your sparkle,” antwoord Natasha op oortuigende wyse. Beslis iemand wie se loopbaan mens kan volg. Met só ’n positiewe en gebalanseerde uitkyk op die lewe kan mens net groot dinge van haar verwag. Volg Natasha op Instagram by @natasha_joubert op Instagram.

Ons wys elke Vrydag iemand op Instagram aan as Instagram Model van die Week. As jy op Instagram is en jy dink jy het alles en nóg waarna ons soek, of ken jy iemand wat jy dink ons Instagram Model van die Week kan wees, kontak ons asseblief by sterrenuus@lumico.co.za.