Vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse televisie, kom daar ’n reeks wat die wêreld van Suid-Afrika se eerste Michelen-ster sjef, Jan-Hendrik van der Westhuizen verken.

In Jan nooi dié bekroonde sjef en kulinêre genie kykers om te kyk hoe hy Franse en Suid-Afrikaanse kookkuns bymekaar bring in sy restaurant, JAN, in Nice, Frankryk. Dié reeks skop Dinsdag, 24 Oktober op VIA (DStv-kanaal 147) af en sal terselfdertyd ook op Showmax beskikbaar wees.

Foto: Verskaf

Kykers kan uitsien daarna om ’n intieme blik op die lewe van die skeppende kunstenaar te kry, asook waar Jan-Hendrik inspirasie kry vir al sy kosskeppings. Ontdek hoe sy lewe op ’n melkplaas in Mpumalanga hom voorberei het om sy eie restaurant in die koshoofstad van die wêreld te open en drie jaar later die hoogste toekenning in die restaurantwese te ontvang.

“Jan-Hendrik van der Westhuizen is een van Suid-Afrika se uitvoer-goedere waarop ons bitter trots is en om sy binnewêreld via die kameras te verken, is ’n groot eer,” sê Izelle Venter, kanaalhoof van VIA.

Volgens Venter is die program in Afrikaans, Engels, Frans en Italiaans en het die hele reeks Engelse byskrifte. Almal kan dus saamkyk.

Die reeks begin by sy spogrestaurant aan die Franse Riviera waar Hollywood-sterre, internasionale sportsterre en ander glanspersoonlikhede toustaan vir ’n sitplek. Die kameras volg hom dan na die Italiaanse dorpie Apricale waar hy sy batterye gaan herlaai en besonderse bestanddele gaan verken saam met plaaslike karakters. Elke reeks eindig met ’n wonderlike gereg wat geïnspireer is deur die episodes se karakters en bestanddele – gewoonlik met ’n stewige Suid-Afrikaanse kinkel.

“My restaurantgaste moet nie net sê hulle het lekker geëet nie, hulle moet sê hulle het ’n goeie ervaring gehad. Dis dieselfde met die reeks: ons neem kykers op ’n visuele en sensoriese reis. As kykers sê die program is ook vir hulle ’n ervaring, dan het ons ons werk gedoen,” sê Jan-Hendrik, wat spesiaal na Kaapstad reis vir die bekendstelling van die program.

Jan saai Dinsdae om 19:30 uit met heruitsendings Sondae om 20:30. Die reeks bestaan uit nege episodes van 50 minute elk. Caesarstone is die uitsaaivennoot en die reeks is vervaardig deur Carien Loubser van Brainwave Productions wat ook verantwoordelik was vir TV-treffers soos, Bobby en Karlien: In Jou Skoene asook Die Republiek van Zoid-Afrika.

Kyk hier na die voorskou-video:

Die reeks sal van 24 Oktober beskikbaar wees op Showmax vir kykers in Suid-Afrika en in die buiteland. Kry al die vermaak op jou gunstelingtoestel by Showmax: teken nou in of maak gebruik van die gratis proeflopie. Showmax is nou ook gratis beskikbaar as deel van jou DStv-Premium-pakket! Klik hier om meer uit te vind.