Vandeesweek het ons gaan aanklop by Edwin van Wyk, ’n jong, gemotiveerde atleet en leerder aan die Hoërskool Garsfontein.

Persoonlik ken mense dié sestienjarige by sy noemnaam, Eddie. “Ek is ’n positiewe persoon wat daarin glo om hard te werk vir wat jy soek en die lewe soveel as moontlik te geniet,” sê Eddie. Hy meen ook dat hy reguit van aard is en dat hy mense sal aanspreek as hulle iets sê waarmee hy nie saamstem nie, maar dat hy ook ’n saak sal ondersteun waar dit nodig is.

Eddie se sportliefde lê by atletiek, en hy neem graag deel aan die 110 meter hekkies en wedlope oor 100 en 200 meter. Sy passie lê egter by hekkies en Eddie is tans een van die beste hekkiesatlete in Suid-Afrika. Slegs vier maande nadat hy aan hekkies begin oefen het, het hy gekwalifiseer vir SA’s en het hy het die vyfde posisie behaal met sy eerste probeerslag.

Wanneer daar gevra word oor die uitdagings van ’n atleet se beroep, meen Eddie dat die oefening die grootste uitdaging is. “Dis baie streng op jou lyf en jy moet gemotiveerd wees om elke dag te oefen. Jou dieet speel ook ’n baie belangrike rol en jy moet seker maak dat jy die voedingstowwe in jou liggaam verbruik, weer terugsit.” Verder meen Eddie dat rus ook bo-aan die lys is om goeie herstel te verseker.

Eddie se skedule is baie vol, maar hy maak seker dat sy week gebalanseerd is. “Akademie kom eerste (soos wat mens se ouers altyd sê),” meen Eddie. Daarna werk hy hard aan sy atletiek en huiswerk na-skool, maar hy maak ook seker dat hy genoeg tyd maak om te ontspan.

Eddie se toekomsdrome is om aan volgende jaar se Jeug Olimpiese Spele in Argentinië deel te neem en oor 10 jaar ’n suksesvolle atleet te wees wat regoor die wêreld deelneem aan byeenkomste. Hy sal ook graag sy eie besigheid wil besit om sodoende sy liefde vir sake en besigheid uit te leef.

Van Wyk deel ook graag sy raad met diegene wat in dieselfde rigting wil gaan; “Wees geduldig, goeie dinge vat tyd. Hou net aan hard oefen en werk vir dit wat jy wil hê en die resultate sal self kom.”

Sy grootste vrees is om nooit te bereik wat hy graag wil bereik nie.

Met ’n goeie houding en lus vir die lewe is ons seker dat Eddie nog groot naam gaan maak regoor die wêreld. Hou gerus sy loopbaan dop, Eddie gaan nog ver kom!