Sjef Mynhardt Joubert se gewilde vrugtekoek is terug op die rak en weer te koop. Hierdie ervare kok het verlede jaar kosliefhebbers ’n vroeë Kerfsfees-voorsmakie gegee toe hy 200 tuisgebakte, geurige, brandewyngevulde vrugtekoeke vrygestel het. Dié skeppings het binne slegs ’n paar weke uitverkoop.

Ná die wegholsukses van die feestelike vrugtekoek verlede jaar, gaan Sjef Mynhardt nóg ’n spesiale baksel maak vir aanhangers om te koester; met knertse KWV-brandewyn om die feesseisoen aan te kondig. Die eerste baksel van sy gewilde vrugtekoeke sal te koop wees by die jaarlikse Festive Ideas Market wat van Woensdag 25 Oktober tot Sondag 29 Oktober by die Simondium Country Lodge tussen die Paarl en Franschhoek gehou word. Sjef Mynhardt gaan ook 10% van al sy verkope skenk aan The Island of Hope, ’n liefdadigheidsorganisasie in die Paarl.  

Sjef Mynhardt se feesseisoen-skeppings kan ook aanlyn gekoop word teen R250 per vrugtekoek op www.mynhardt.co.za. Sy vrugtekoekresep kom al donkiejare terug van sy wortels in die Vrystaat en vier familiewaardes en alle aspekte wat gepaard gaan met die feesseisoen. “Drie jaar gelede het my suster vir my ’n vrugtekoek gebak en vir my gestuur al die pad uit Bethlehem in die Vrystaat, verpak in ’n outydse blik en al. Daardie dag het ek vrugtekoek begin eet en tot vandag toe, bak ek elke jaar haar resep.”

Hierdie sjef word ook nie afgeskrik deur mense wat sê dat hulle nie vrugtekoek eet nie: “Nadat ek my eerste baksel verlede jaar vrygestel het, was ek verras deur die hoeveelheid mense wat vir my gesê het dat hulle nie van die smaak van vrugtekoek hou nie, totdat hulle myne geproe het!”

Sjef Mynhardt verklap dat die geheim eintlik daarin lê om nie te veel speserye (soos neutmuskaat) by te voeg nie, of om te veel brandewyn te gebruik nie aangesien dit die koek ’n swaar tekstuur gee. Mens moet ook spaarsamig met rosyntjies werk en dit verkieslik bedien met iets lig soos ’n tuisgemaakte gemmer-roomys. “Laastens, werk ek baie rustig met die mengsel wanneer ek dit meng, wanneer mens te rof met die mengsel werk, kneus al die heerlike bestanddele soos die neute en die kersies.”

Hierdie koeke word ook vrygestel as ’n lusmaker vir Sjef Mynhardt se gewilde Festive Tables en besprekings is reeds oop vir November en Desember se feesseisoen middag- en aandetes. Hierdie langtafel-etes reflekteer Sjef Mynhardt se waardes van vrygewigheid en maak voorsiening vir 20 tot 30 gaste om ’n intieme eet-ervaring te geniet.

Middag- en aandetes word bedien by Sjef Mynhardt se gemaklike, langtafel-restaurant in Stasiestraat in die Paarl. Hierdie etes vind van 1 November tot 16 Desember plaas. Vanjaar berei shy ’n feestelike tafel voor en dit sluit sy gewilde vrugtekoek in asook wyne en brandewyn van die KWV se hoëgehalte reeks, alles vir slegs R650 per persoon.

Besprekings vir Sjef Mynhardt Joubert se Festive Table is tans oop. Vir meer inligting of om jóú plek te bespreek, of selfs om ’n liplek-lekker vrugtekoek te bestel, besoek gerus www.mynhardt.co.za of volg hom op sy sosiale media: @MynhardtJ (Twitter); @mynhardtj (Instagram) and @MynhardtJ (Facebook).