Hierdie knoffelhoender is ’n heerlike gereg. Jy druk die knoffel uit hul skilletjies en eet soos ’n smeer op die brood. Die res van die brood gebruik jy om die sousies op te vee.

Bestanddele:

1 lekker groot heel hoender
Sout na smaak
2 takkies vars tiemie
2 takkies vars roosmaryn
2 takkies vars salie
2 selderystingels, met hul blare aan
2 takkies platblaar pietersielie
40 knoffeltoontjies, net so in hul skilletjies
3 eetlepels olyfolie
Varsgemaalde swartpeper

Metode:

Besprinkel die hoender aan die binnekant en aan die buitekant met die sout. Plaas nou die helfte van die tiemie, roosmaryn, salie en seldery aan die binnekant van die hoender, ook die pietersielie en vier van die knoffeltoontjies.

Rangskik die res van die kruie en die seldery in ’n ovaal oondbak wat net-net groot genoeg is om die hoender te hou. Voeg die olyfolie, sout en peper en die res van die knoffeltoontjies by. Rol die hoender in die bak totdat dit alkant met olie bedek is.

Bedek en bak vir 1¾ uur in ’n voorverhitte oond van 200˚C. Haal die hoender uit en plaas op ’n plat opdienskottel. Rangskik die knoffeltoontjies rondom. Gooi die pansappe af in ’n souspot en bedien saam met die hoender en die brood.

Vergeet van die kolonel. Hierdie is liplek-lekker! Sorg net dat daar genoeg jammerlappies op die tafel is.

Resep verskaf deur Toorkombuis. Vir smullekker resepte, besoek Toorkombuis se webtuiste by toorkombuis.co.za/