Sean van Noordwyk is gebore in Kaapstad en het skool gegaan in Bellville waarna hy sy graad in Drama aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Ná sy studies het hy aangesluit by die Getroud met Rugby – die sepie-span, en is tot vandag op die kassie te sien as Reitz.

Hy bieg dat hy baie bevoorreg is om die rol so gou los te kon slaan, maar dat dit nie werklik sy oorspronklike plan was nie. “Ek wou ’n drama-onderwyser wees, aangesien my drama onderwyser so ’n groot invloed op my gehad het,” vertel hy.

Hy is baie passievol oor die teater en die toekoms daarvan en glo met harde werk, groot drome en nederigheid sal jy dit ver maak in die bedryf. Sy vriende is die belangrikste aspek van sy lewe en hy bestee gereeld tyd saam met hulle.

Die grootste ooreenkoms tussen Sean en sy sepie-karakter, Reitz, is die passie waarmee hulle iets aanpak. Sean lewe vir die drama-wêreld en Reitz vir rugby.

Maar waar het die drama-gogga dié talentvolle akteur gebyt? “Toe ek op kleuterskool was, was ek die een in die klas wat altyd die stories wou vertel. Ek het nog altyd in my eie wêreld geleef en wou my verbeelding met ander deel,” sê hy. Om ’n rol te vertolk is vir hom meer interessant as sy eie lewe. Hy leer so baie dinge deur in die karakter se skoene te loop.

Sy toekomsdroom is om teater te doen, al is dit om akteur, regisseur, skrywer of ontwerper te wees. Een van sy drome is om betrokke te wees by ’n fliek. Hy vertel: “Een van my grootste drome is om in ’n Shakespeare-produksie te wees.”

Hy sal graag saam met die aktrise Rolanda Marais wou werk as hy die kans kry. Volgens Sean het hy verlief geraak op haar werk, veral toe sy te sien was in Die Seemeeu. Internasionaal sal hy saam met enige akteur in die Amerikaanse reeks, American Horror Story, wou werk.

Die skrywer en regisseur, Christiaan Olwagen, is vir hom ’n rolmodel. “Ek is verslaaf aan sy werk. Elke teaterproduksie wat hy aanpak is ’n magiese ervaring. Boonop was sy eerste fliek, Johnny is nie dood nie, grensverskuiwend,” sê Sean.

As daar een ding is wat hy van die aarde kon wegvat, sal dit etikette wees. Volgens hom maak dit nie saak watter ras, geloof of voorkoms jy het nie. Mense is maklik om etikette vir ander te gee.

Op die vraag; Ek is bang vir… antwoord Sean: teleurstelling. “Dis vir my die mees pynlikste, emosionele gevoel wat ek kan ervaar wanneer ek iemand teleurstel,”  vertel hy.