Sy rolmodel is Jo Black, hy sal graag saam met Karlien van Jaarsveld ’n duet wil doen, en hy bieg dat hy goed kan dans. Dié week is ons musiekster van die week die opkomende Ivan Roux!

Wie is Ivan Roux?
Ivan Roux is ’n veelsydige kunstenaar wat lief is vir enige musiek van rock tot country. Hy was ’n top 10 finalis in Idols in 2014. Hy is tans besig om die land plat te speel met sy musiek en hy het onlangs ’n enkelsnit, Ek Is Boer, wat baie vinnig ’n groot oproer veroorsaak het, uitgereik.

Beskryf jou musiekstyl
Ek sal my musiekstyl tans beskryf as lewendig, musiek wat aan jou hart raak en ook musiek wat jou laat dink aan die dae wanneer jy af voel.

Waar sien jy jouself oor tien jaar?
Om eerlik te wees sien ek myself in tien jaar op van Suid-Afrika se grootste verhoë, besig om ’n verskil te maak in ons wêreld.

Watter geheime talente het jy?
Haha, geheime talente? Wel, ek kan dans, maar ek steek dit goed weg wanneer ek maak of ek nie kan dans nie.

Wat is jou grootste droom?
Ek kan met alle eerlikheid sê ek is tans besig om my droom te leef maar as ons dit nog verder wil vat, dan sal ek sê my droom is om eendag op ’n verhoog te staan en die gehoor sing my liedjie harder terug as ek self.

Wie is jou rolmodelle in die musiekbedryf plaaslik?
My rolmodel plaaslik in die bedryf is een van my goeie vriende, Jo Black, hy is ’n baie wyse man en hy het altyd vir my die beste raad.

En internasionaal?
’n Ou wat altyd ’n groot impak op my lewe gehad het, was Adam Levine van Maroon 5.

Saam met watter kunstenaar/s sal jy graag ’n duet wil doen?
As ek nou aan een kunstenaar kan dink sal ek sê ek sal graag saam Karlien van Jaarsveld ’n duet wil doen. Sy’t werklik die stem van ’n engel in my opinie.

As daar een ding is wat jy van die aardbol af kan laat verdwyn wat sal dit wees?
Ek het net die ander dag die gesprek gehad met iemand. Ek sou regtig geld laat wou verdwyn van die planeet af.

Waar kan mense jou op sosiale media kry of kontak vir konsertbesprekings?
Julle kan my gerus kry op sosiale media, op Facebook, Twitter en Instagram. Vir konsertbesprekings skakel Treo Music by 063 791 8125‬ of stuur ‘’n e-pos na bookings@treomusic.co.za.

Laai JOOX gratis in die Google Playstore en App Store af en luister na ons weeklikse speellys met top musiek!