Die sensuele 24-jarige Nafeesa Kherekar is ’n suksesvolle grimeerkunstenaar van Kaapstad en ons Instragram Model van die Week. Benewens ma-wees van ’n tweejarige seuntjie, is sy passievol oor haar loopbaan, dol daaroor om mense met haar towerkwasse te verfraai en het selfs op só ’n jong ouderdom reeds ’n single opgeneem en vrygestel.

“Ek doen al grimering vandat ek veertien jaar oud was en was altyd gefassineer deur grimeerkuns. Ek kom uit ’n gesin van ses en was beslis die hanswors en ook die rabbedoe onder ons. Maar ek het altyd met grimering gespeel en graag gekyk hoe my ma haarself mooi maak.

“Ná hoërskool het ek eers ’n bietjie radio- en TV-werk gedoen, maar die skoonheids- en modewêreld het my naam geroep!” En siedaar, vandag is sy ’n gekwalifiseerde grimeerkunstenaar met ’n lang lys getroue kliënte en is gek oor haar werk.

’n Suksesvolle loopbaan beteken nie dat sy altyd in die sewende hemel is nie. “Soos baie vroue wat al kinders gehad het, is ek nog steeds besig om myself te vind en om 100% seker van myself te wees. Sommige dae voel ek onstuitbaar en ander dae voel ek sommer net vet, maar ek dink dis heeltemal normaal. Probeer om positief te bly en omring jouself met mense wat jou goed laat voel.”

Op die vraag wat sy in haar lewe wil bereik, sê Nafeesa: “Ek wil ’n goeie vrou en ma wees. En die aarde verlaat met die wete dat God gelukkig is met wat ek hier op aarde gedoen het.”

Die opneem en vrystelling van ’n single beskou sy as die malste ding wat sy nog in haar lewe gedoen het. “Ek het in ’n stadium gedink om ’n sangeres te word.”

Nafeesa het kurwes op die regte plek en hou dit so. “Ek eet ’n gebalanseerde dieet, maar is nie te streng met myself nie. As ek ’n burger wil eet, doen ek dit, en as ek lus is vir groente en slaai, dan is dit wat ek sal eet. Ek is mal oor kook en gaan toets gereeld nuwe restaurante uit.”

Hierdie sexy bruinoog beskryf haarself as funny, caring, daring.

En haar antwoord op die vraag: “Don’t let anyone….”, sê sy: “Just wax or thread your brows.” Soos alle dinge in die lewe is jou wenkbroue baie belangrik. Sy glo – soos enige uitstekende grimeerkunstenaar – aan “brow contact before eye contact”. Beslis ’n uitstekende wenk vir enigeen wat grimering dra. Volg Nafeesa op Instagram by @nafeesakmua

Ons wys elke Vrydag iemand op Instagram aan as Instagram Model van die Week. As jy op Instagram is en jy dink jy het alles en nóg waarna ons soek, of ken jy iemand wat jy dink ons Instagram Model van die Week kan wees, kontak ons asseblief by sterrenuus@lumico.co.za.