Die ontslape Irene van Wyk se dogter, Irene-Louise, is vandeesweek ons musiekster van die week. Sterre.co.za het gaan aanklop by die talentvolle sanger om onder meer oor haar jongste album, Sjampanje, te gesels.

Wie is Irene-Louise van Wyk?

Ek is ’n doodnormale 25-jarige meisie met ’n groot passie vir optree en my musiek.

Jy is veral bekend vir lekker voetstamp-liedjies. Skryf jy dit self?

Ek hou daarvan om deel te wees van ’n proses, ongelukkig was ek nie baie deel van die nuwe album Sjampanje se skryf nie (was deel van die liedjie-idees en liedjie-keuses). Ek hou daarvan om dit dan my eie te maak in die studio. Ek was meer betrokke met die skryf op my vorige album Meer as Woorde.

Wat inspireer jou?

Wel, sukses, doelwitte om te bereik met harde werk, en o ja lekker travel. Hehe.

Jy het ’n duet met Early B op jou nuwe album. Waar het die konsep ontstaan?

Wel ons het die liedjie heeltemal reg gehad en ons (Ek, Bouwer Bosch en Peach van Pletzen) het gesit en gevoel iets is missing, ons kort iets. Bouwer het toe voorgestel ons kry Early B om ietsie daar te rap wat die cherry op die koek gesit het want ek het presies geweet wie hy is en dat hy briljant is met wat hy doen, so ek was baie opgewonde.  

So gepraat van jou nuwe album, vertel ons bietjie meer daarvan.

Ek is so ongelooflik trots op die album. Ek’s lus en staan op die straat en deel dit uit vir almal om te hoor. Die album is ’n “feel  good” album. Ek voel ons het in vandag se dae met al die negatiewe goed om ons, musiek nodig wat ons gelukkig maak, wat ons in ’n goeie bui sit en wat ons lus maak om die lewe te vier. Die album is ook natuurlik ’n nuwe klank vir Afrikaans en dit maak my opgewonde om te weet ek is anders en mense ondersteun my vir dit.

Saam met wie sal jy nog ’n duet wil doen?

Bobby van Jaarsveld of Snotkop.

Waar sien jy jouself oor 10 jaar?

10 jaar, sjoe, dit klink soos ’n leeftyd weg. Wel hopelik is ek by dan gelukkig getroud en mamma wat sy eie uitdagings sal saam bring. Wat my musiek betref, hoop ek om meer sukses te bereik en ’n volwaardige loopbaan te hê wat met harde werk my daar gekry het en geloof in my musiek en klank en die proses om daar by te vol hou.

Volg gerus Irene op Facebook, Twitter en Instagram. Klik hier om haar album digitaal te kry.

Kyk haar musiekvideo hier: