Annie Kirsten – ons pragtige Instagram Model van die Week – is ’n vurige 26-jarige wat haarself beslis besig hou – sy is nie net graad 1-juffrou nie, maar ook deeltydste model, ’n ambassadeur vir Miss Earth en tans ook voorbladnooi van ’n bekende leefstyltydskrif.

Ons wou by haar weet wie die meisie agter die voorbladfoto is. Annie is oorspronklik van Roodepoort in Gauteng, maar bly tans in Johannesburg. Sy het haar grondslagfase-graad by die Noord-Wes-Universiteit voltooi. Daarna het sy voltydse modelwerk vir BOSS-models begin doen terwyl sy haar honneurs en meesters klaargemaak het.

“My familie is my steunpilaar deur die lewe. My pa gee altyd wonderlike raad, my ma is beslis my rolmodel en my broer is my beste vriend. Sonder hulle liefde en ondersteuning sou ek nooit kon doen het wat ek nou doen nie, vertel sy. Sy is tans ’n graad 1-onderwyser by Laerskool Esperanza en doen nog steeds modelwerk.

Wat het die Miss Earth-kompetisie behels?

“Ek het verlede jaar deelgeneem aan Miss Earth en is gekies as een van hul ambassadeurs vir die jaar. Ons het hard gewerk het om bome te plant, uit te reik na minderbevooregte kinders en waarlik net ons beste probeer om die wêreld ’n beter plek te maak. Dit was ‘n wonderlike ervaring en ek het ongelooflik baie geleer en gegroei met die Miss Earth-program.”

Annie is dol daaroor om met kinders te werk en mense te help wat minderbevoorreg is. Sy is gaande oor diere en om soveel moontlik in die natuur te wees, of dit nou is om te kamp, op staptoere te gaan, te gaan draf of enigiets buitekant. “Ek geniet dit om saam my vriende, familie en kêrel te kuier, veral om ’n braai of om ’n piekniek te hou.”

Sou jy jouself beskou as iemand wat gemaklik in jou eie vel is en wat is vir jou belangrik in die lewe?

Ek dink nie ek was altyd nie, maar hoe ouer ek word, hoe meer gemaklik voel ek met myself en hoe die Here ons elkeen uniek en spesiaal gemaak het. Ek ervaar deesdae baie dankbaarheid oor alles wat die Here vir my doen en fokus daarop om in alle situasies die positiewe kant te sien. My geloof is definitief die heel belangrikste ding in my lewe – sonder die Here elke dag in my lewe voel ek verlore. Dit is my lewenspassie om ’n verskil in mense se lewens te maak, veral in in die lewens van kinders en diere.”

Wat wil jy graag in jou lewe bereik?

“In 2018 wil ek baie graag begin met my doktersgraad in leerderondersteuning, want ek wil graag met kinders werk wat leerprobleme ervaar en later in my lewe sal ek graag by ’n universiteit wil werk om nuwe onderwysers op te lei. Dit was ook nog altyd ’n droom van my om my eie liefdadigheidsprojek te begin, om waarlik ’n verskil in mense se lewens te maak.”

Wat maak jou skaterlag en wat maak jou huil?

“Baie goed!! Ek lag baie maklik, maar dink as iemand vir my ’n snaakse storie vertel lag ek gewoonlik die lekkerste. My pa en kêrel is baie snaaks, so ek dink ek lag die meeste vir hulle. Maar so vinnig soos wat ek lag, kan ek ook huil. Ek het ’n baie sagte hart, so die oomblik as ek diere sien wat mishandel word of enige prentjie daaroor, huil ek altyd. En enige hartseer fliek … Maar ek is glad nie sentimenteel nie – ek sal enigiets weggee. My familie spot altyd dat ek al hulle goed sal weggee as hulle wegkyk.”

Voltooi hierdie sin: “Don’t let anyone…”

“Make you feel small, with God by your side you can achieve anything! Volg hierdie pragtige rooikop by @annie_kirsten91 op Instagram.