’n Driedubbele-draaisprong ysskaatsrekord en al die tegniek in die wêreld, help niks as dit deur een van die mees sensasionele skandale van alle tye oorskadu word nie. I, Tonya is ’n fliek gebaseer op ’n ware verhaal en sal jou van begin tot einde op die punt van jou stoel hou.

Die voormalige ysskaatskampioen, Tonya Harding (Margot Robbie), was sterk
op pad om een van die wêreld se grootste sportlegendes te word. Hierdie
kompeterende ysskaatser was van jongs af ambisieus en doelgerig. Sy is die
eerste vroulike solo-deelnemer wat die VSA Ysskaatskampioenskappe in 1991 gewen het, met ’n gradering van 6.0 vir tegniek. Sy is in dieselfde jaar ook die eerste vrou om
’n driedubbele-draaisprong by die Wêreldkampioenskappe te voltooi, waarna sy
tweede in die kompetisie geëindig het. Sy word egter nie hiervoor onthou nie,
maar eerder vir haar betrokkenheid in ’n mislukte aanval op haar grootste teenstander,
Nancy Kerrigan (Caitlin Carver), deur haar eksman (Sebastian Stan) en lyfwag (Paul Walter Hauser) wat haar drome verpletter het.

I, Tonya is ’n donker komedie-drama, uit die pen van Steven Rogers (Hope Floats, Stepmom), wat die storie van ’n talentvolle sportster vertel, wie se sukses gepootjie word deur haar ongelukkige kinderjare, haar ma se mishandeling en stormagtige verhoudings. Hierdie treffende film, met Australiese regisseur, Craig Gillespie (Lars
and the Real Girl, Fright Night), word in Februarie 2018 vrygestel, maar spog reeds met verskeie benoemings van internasionale rolprentfeeste, waaronder beste speelfilm en beste aktrise by die Gotham-toekennings in November 2017 en beste aktrise in ’n hoofrol, beste aktrise in ’n ondersteunende rol en beste redigering (Tatiana S. Riegel) by die Independent Spirit Awards, wat in Maart 2018 plaasvind. Allison Janney, wat die rol van Tonya se gevoellose ma (LaVona Golden) speel, het ook weggestap met die toekenning vir beste aktrise in ’n ondersteunende rol by vanjaar se Hollywood Rolprenttoekennings.


Hierdie bekroonde verhoogaktrise is veral bekend vir haar rolle in The West Wing, American Beauty en Juno.  

Die fliek spog met ’n uitstekende rolverdeling en het baie lof vir uitstekende vertolkings deur die hoofrolspelers ontvang. Margot Robbie, bekend vir flieks soos About Time, The Wolf of Wall Street, Focus, The Legend of Tarzan en Suicide Squad, word geprys vir haar vertolking van Tonya Harding, terwyl Sebastian Stan die rol van haar eksman,
Jeff Gillooly, vertolk. Stan was reeds in verskeie televisiereekse te sien, waaronder
Law and Order en Gossip Girl, en het ook rolle vertolk in die Captain America-fliekreeks, Riki and the Flash, The Martian en vele ander.   

I, Tonya beloof om kykers diep te tref, nie net omdat die toneelspel en regie puik is nie, maar ook omdat dit op ’n manier die onskuld van ’n vrou wat deur die wêreld veroordeel en deur haar geliefdes vertrap is bewys. “Die rolprent plaas die situasie in perspektief en help om Tonya uit te beeld as dit wat sy nog altyd was: ’n talentvolle ysskaatser en ’n mens met ’n droom, wat deur die wêreld gesteel is,” sê Owen Gleiberman van Variety.

Die fliek word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en word landswyd op 16 Februarie 2018 vrygestel.