Ma’s, hul dogters en nou ook die kleingoed is gek oor Marno van der Merwe en dis nie moeilik om te sien hoekom nie. Drama en die kunste vloei sterk deur sy are. Gooi daarmee saam ’n fantastiese stem en voor jou sit een van die blinkste sterre.

Aanhangers sal hom ken vir sy rolle in televisiereekse soos Sterlopers en films soos Pretville en Modder en Bloed. Maar min weet dat dié talentvolle akteur en sanger eintlik graag ’n professionele rugbyspeler wou wees.

Soveel so dat hy ná skool vir die Valke in die eerste liga uitgedraf het. “Sport maak my nog altyd gelukkig en ek dink steeds ek moes eerder ’n sportpersoonlikheid as akteur geword het,” gesels Marno.

As kranige jong rugbyspeler wou die beserings egter net nie end kry nie. “Ek dink die lewe het eerder my loopbaan vir my gekies as ek self,” sê hy.

In 2008 het hy ’n rol in ’n Barnyard-produksie los geslaan, een van vele om te kom, en het sy loopbaan behoorlik vlam gevat. Daarna het rolle in musiekspele soos Ester (2011), Dawid (2012), Jesus (2013) en Liefling (2013) gevolg. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Behalwe vir sy liefde vir die verhoog is Marno ook ’n kranige perderuiter. “Ek het maar so op die rug van ’n perd grootgeword. My pa is ’n perdeafrigter en ek kon perdry voor ek kon loop,” gesels hy.

Selfs sonder enige teateropleiding skitter Marno se ster helderder as ooit. Maar hoe gemaak as jy ook eendag sulke groot hoogtes wil bereik?

Soos sy lewensfilosofie dan ook lui: “hou aan beweeg”, is daar beslis geen tyd vir stilsit nie. Sy album, Kalm jou Army, verkoop reeds ook soos soetkoek.

Vir nou kan aanhangers daarna uitsien om hom op die verhoog in aksie te sien, maar hy maak ook een van die dae ’n draai in die gewilde sepie 7de Laan. Meer wil Marno nie verklap nie, maar een ding is seker, dié man lewe voluit.