Gebore en getoë in Pretoria, staan dié talentvolle aktrise vir niemand terug nie. Fliekvlooie sal haar onthou vir haar rol as Yvette Verwey in die Afrikaanse tienerfilm Jou Romeo en die meer onlangse Pizzaface snr. in Vaselinetjie.

“Vandat ek kan onthou het stories my geboei. In Graad 9 het ek ’n dramakursus by Lelia Etsebeth en Jacques Bessenger gedoen en na die eerste dag gevoel asof ek vir die eerste keer wakker geword het. Dit is wonderlik om steeds vandag, jare later, nog toneel te speel,” sê sy. Elani het tuisonderrig ontvang, waarna sy in 2017 die kans gehad het om, danksy ’n studiebeurs by die gesogte New York Film Academy, ’n kursus te voltooi.

Sy kan nie uitgepraat raak oor haar jongste rol nie. “Pizzaface het in die kinderhuis beland nadat haar ma haar vir drank verkoop het. Sy is seker een van die mees optimistiese mense wat ek al ooit gesien het en alhoewel sy van kleins af aan die mees ondenkbare slegte ervarings in die lewe blootgestel is, leef sy elke dag voluit.”

Elani vertel dat sy vir ’n maand op stel was om die film te skiet en dat skofte hier, sowat 12 uur lank was. “Dit het afgehang hoeveel tonele ons skiet, in watter tyd van die dag of nag die storie afspeel en of Pizzaface deel van die toneel was. Partykeer het ek sesuur in die oggend begin en ander kere net voor middernag klaargemaak,” vertel sy. Vir Vaselinetjie kon Elani skouers met gesoute akteurs soos Sharleen-Surtie Richards en Royston Stoffels skuur, een van die vele groot oomblikke van haar loopbaan. “Om te kon sien met watter aanslag en attitude hulle op stel en agter die skerms optree en die voorbeeld wat hulle gestel het was inspirerend,” deel sy.

Die film, gebaseer op die jeugboek deur Anoeschka von Meck, vertel die verhaal van Vaselinetjie (Helena) Bosman wat by haar liefdevolle ouma en oupa in ’n klein dorpie in die Noord-Kaap woon. Op tienjarige ouderdom word sy na ’n weeshuis in Gauteng gestuur omdat sy wit is en nie haar bruin grootouers se biologiese kleinkind nie. Dit is 1993 en Suid-Afrika staan op die rand van onherroeplike verandering en soos die land transformeer, word Vaselinetjie ’n jong vrou. Die weeshuis in Johannesburg is ’n vreemde, ongenaakbare en gevaarlike wêreld. Daar traak niemand hulle oor jou nie en leer jy om oor niemand te traak nie. Dit is eers wanneer Vaselinetjie verlief raak op “Texan Kirby”, ’n aantreklike, vurige kinderhuisseun, dat een van haar grootste uitdagings aangespreek word: die waarheid oor haar herkoms.

Vaselinetjie is ’n oorspronklike Suid-Afrikaanse storie. Dit is een van daardie films waaroor jy vir ’n paar dae na die tyd nog dink en praat. Omdat dit so eerlik vertel word, is daar aspekte wat alle mense by aanklank vind.”

“Dis ’n hoendervleis-lekkerkry-seerkry movie – mense wat nie bang is om met die realiteit van die lewe gekonfronteer te word nie, sal hoop vind in Vaselinetjie se stryd met haar identiteit,” verduidelik Elani.

Die bedrywige aktrise is altyd aan die rondhardloop en vertel dat sy gek is oor kursusse en werksessies. “Wanneer ek nie besig is om stories te vertel nie, is ek besig om te leer hoe om stories beter te vertel,” vertel sy.

Wanneer sy wel tyd het om te ontspan, lees Elani graag, of spandeer tyd saam met haar hartsmense. En sy is natuurlik ook gaande oor films.

Het sy enige raad vir jong aspirant akteurs wat van die silwerskerm droom? “Wees gereed, berei voor en leer hoe om jou talente te gebruik. Alles in ’n kunstenaar se lewe is onseker, maar jy het wel beheer oor die kwaliteit van jóú kuns. Wat moet gebeur sal gebeur, wees jy net voortdurend besig om te groei in jou craft.”