Kom reis saam na van Suid-Afrika se beste boere saam met Landbouweekblad, Suid-Afrika
se grootste en invloedrykste landboutydskrif. Dié boere bepaal die agenda en dink nuut en só
los hulle ook van die land se grootste probleme op. Hulle is groot boere, klein boere, manlike
boere, vroulike boere, wit, swart en bruin. En dan is daar natuurlik ook die groot masjiene,
pragtige diere en indrukwekkende boorde en landerye!

VIA se nuwe program, Landbouweekliks, gaan nie net lig werp op die tegniese aspekte van
landbou nie, maar ook op die boere se visie en lewenspad. Kenners gaan ook elke week raad en
inligting oor spesifieke onderwerpe deel, en Landbouweekblad se redakteur en ’n paar joernaliste
gaan ook te sien wees. Dié program is ’n vennootskap tussen VIA en Landbouweekblad,
Suid-Afrika se grootste landboutydskrif. Landbouweekliks begin op Dinsdag 9 Januarie 2018
om 19:30 eksklusief op die Afrikaanse leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147).

Die geliefde radio- en TV-persoonlikheid Ivor Price reis in elke episode na plase regoor Suid-Afrika.
Hy ontmoet besonderse boere met hope entoesiasme vir die landboubedryf, sowel as die span
mense wat saamwerk om die boerdery vorentoe te neem. Soos die Laeveldse boer Milaan Thalwitzer
in die eerste episode sê: “Jy kan nie ’n besigheid bestuur en bedryf as jy nie goeie werkers
het nie. Daarom gaan ons uit ons pad om vir ons werkers so veel voordele as moontlik te bied.”

LEES OOK: Vars kykgenot in die nuwe jaar op VIA

‘Doen meer met minder’
“Ons boere is van die beste bestuurders in ons ekonomie,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van
Landbouweekblad. “Nie net moet hulle ’n magdom veranderlikes, soos die weer en die wisselkoers
(wat grootliks buite hulle beheer is) suksesvol bestuur nie, maar hulle moet ook met vernuwende
oplossings vorendag kom vir byna onoorkombare probleme. Een daarvan is dat hulle insetkoste
gewoonlik vinniger styg as die prys van die produkte wat hulle produseer. Hulle moet die heeltyd
nuut dink, nie net met hulle masjiene nie, maar ook in hulle koppe, om meer met minder te kan
doen. Die resultaat is besonderse mense met ’n besonderse perspektief op die lewe wat gewone
kykers sal verras en verstom. Beleef boere soos jy hulle nog nooit vantevore beleef het nie.”
Ivor besoek verskeie boerderye – van winter- en somergraan, vee, vrugte en wyn tot suksesvolle
bemagtigingsprojekte. In Landbouweekliks rol Ivor ook sy moue op vir ’n bietjie handearbeid op
die plaas. Dit sorg vir lekker humor én bied insig tot die daaglikse plaaslewe. Te midde van die
harde werk, sweet en saamkuier leer ons hoe belangrik die landboubedryf werklik in Suid-Afrika is.

“VIA se leefstyl-inhoud bied die ideale platform vir ’n moderne landbouprogram wat klem lê op
Suid-Afrikaners wat voluit boer,” sê Izelle Venter, VIA se kanaalhoof. “Die program sal nie net die
landbougemeenskap aan die hart gryp nie, maar ook gewone verbruikers wat graag wil verstaan
waar hulle kos vandaan kom.”

Nuwe episodes van Landbouweekliks word elke Dinsdag om 19:30 uitgesaai met heruitsendings
op Sondae om 17:30. Die twee seisoene van die program bestaan uit 26 episodes van ’n halfuur
elk. Die program is ook op DStv Now beskikbaar.

Landbouweekliks word deur Brand Republic vervaardig en met trots geborg deur dié rolspelers
in die landboubedryf: Afgri, GWK, Monsanto (Dekalb SA), MSD, PSG en Hinterland.

Bly op die hoogte
• VIA se programroosters word in Afrikaanse koerante, Huisgenoot en tvplus gepubliseer
en is ook op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook en @viatv op
Instagram om op hoogte te bly van programnuus.
• Besoek Landbou.com vir nog inligting oor die boere en plase.
• Vir nog besonderhede oor VIA se programme of aanbieders, stuur e-pos aan Saskia Hill
by saskia.hill@media24.com of besoek viatv.co.za.