Is jy moeg om elke jaar jou Kersboom op dieselfde manier te versier en dieselfde versiersels op te hang? Hoekom probeer jy nie iets wat uniek is? Probeer om jou Kersboom te versier met die volgende wenke. Jy gee nie net jou Kersboom ’n nuwe baadjie nie, maar Kersvader sal dit ook geniet om jou huis te besoek as hy daardie cool Kersboom sien!

Maak ’n Kerskaartjie Kersboom – koop verskillende kaartjies en skryf mooi boodskappe daarin en hang dit om die Kersboom. Jy kan selfs kaartjies maak en dit mooi versier of gebruik ou kaartjies wat jy elke jaar kry en hang dit op die boom.

Maak ’n reënboog Kersboom – jy kan verskillende simbole op harde karton teken en dit uitknip, mooi versier en dan op jou Kersboom hang. Jy kan ook die Kersornamente gebruik wat jy reeds het en dit ook hang by die simbole en jou Kersboom opkikker en nuwe lewe gee!

Maak Kersornamente met geskenkpapier – koop vir jou geskenkpapier en maak sirkelvormige voorwerpe of vierkantige voorwerpe. Jy kan ook ’n groot boks neem en kleiner boksies daaruit maak en aan die boom hang.

Jy kan ook ’n tel-die-dae-af-na-Kersfees boom maak – gebruik harde karton en skryf nommers en die woorde Kersfees op die karton, bv. 12 dae tot Kersfees. Versier dit mooi en knip uit en maak met tou vas. Hang hierdie unieke ornamente aan die Kersboom en tel die dae af na Kersfees.

Maak Kersboom-ornamente deur botteldoppies te verf met verskillende kleure en aan toutjies te hang. Jy kan selfs prentjies op die botteldoppies teken om dit meer kreatief te laat lyk.

Gebruik ou gloeilampe om aan die Kersboom te hang. Verf dit met glittergom en rol dit daarna in glitter. Laat dit vir 15 minute staan om droog te raak en sit dan ’n toutjie daaraan vas om dit op te hang.

Jy kan ook klein fotorame gebruik, net ’n toutjie daaraan hang en so kan die hele gesin se foto’s aan die Kersboom hang.

Om die boom af te rond, gebruik rooi en wit lint en maak ’n knoop om die Kersboom se takke.

Versier jou Kersboom met hierdie unieke idees. Jou Kersboom hoef nie elke jaar dieselfde te lyk nie. Gebruik die tyd wat jy die Kersboom gaan versier om saam met die hele gesin nuwe herinneringe te maak.

Hierdie artikel is verskaf deur MyMatzikama.com