Kaartjies vir die grootste sokkie-geleentheid van die jaar, Super Sokkie, wat op Sondag, 31 Desember by Carnival City in Johannesburg aangebied word, word vinnig opgeraap.

Super Sokkie word vir ’n derde keer by Carnival City aangebied met Kurt Darren, Liezel Pieters, Refentse, Snotkop en Nádine om die nuwe jaar in te sokkie. Liedjies soos Cool soos Koos Kombuis, Kaptein, Anoret, Kaapse Draai en vele meer gaan sorg vir heerlike dansoomblikke.

“Diegene wat nog nie kaartjies het nie, gaan nou hulle kaartjies moet kry. Kaartjies raak by die dag minder. Dis ’n moewiese jol wat jy nie wil misloop nie,” het Kurt Darren, organiseerder van Super Sokkie, gesê.

Super Sokkie is ’n konserttoer wat aangebied word regoor Suid-Afrika en selfs op die water. Dié geleentheid spog selfs met ’n wêreldrekord.

Die sangeres en aanbieder, Nádine, maan alle konsertgangers om hul kaartjies vroegtydig te kry aangesien dit so skaars soos hoendertande is. “Ek is so opgewonde oor Super Sokkie. Julle moet julle kaartjies kry,” het sy gesê.

Super Sokkie toer volgende jaar – op 3 Maart – ook na die VSA en daarna word daar van Vrydag, 9 Maart tot Maandag, 12 Maart op die MSC-bootvaart gedans.

Kaartjies vir die vertoning op Sondag, 31 Desember is nóú landwyd beskikbaar by Computicket-kiosks, Shoprite/Checkers en House & Home. Kaartjies is ook aanlyn by Computicket of by 0861 915 8000 beskikbaar.