Daar lê weer hope drama voor in jou gunsteling TV-sepie. Loer hier na enkele hoogtepunte:

7DE LAAN
Weekdae – 18:00
SABC2

VERLEDE KEER
Marko en Esti het uiteindelik hul gevoelens vir mekaar erken, Connie was dankbaar teenoor André vir sy ondersteuning, en daar was ’n groot Kersete in Oppiekoffie.

3 – 5 JANUARIE
Esti en Thomas moet ’n belangrike gesprek voer, en Bonita neem ’n groot besluit oor haar en Daniel se toekoms wanneer sy dit oorweeg om oorsee te gaan klasgee. Rickus beplan ’n groot verrassing vir Amorey se verjaardag, Ben leer ’n duur les, en Olivia se ou wonde word oopgekrap.

8 – 12 JANUARIE
Charmaine dink terug aan haar gelukkige huwelik met Neville, Matrone kry ’n blink idee wanneer sy oplet hoe Rickus en Olivia mekaar se geselskap geniet, en Mariaan het genoeg van Amorey se vrot houding gehad. André moet besluit wat vir hom belangriker is, sy vriende of besigheid. Willem oorweeg dit om Chris te vertel van die geheim wat hy oor Mariaan uitgevind het, en Justin besluit om meer aandag aan sy gesondheid te gee. Vanessa sukkel om te aanvaar Xander moet sy aandag verdeel tussen sy twee kinders, Karmen en Daniel. Olivia hoop Rickus kan haar met haar probleme met haar eks-kêrel help, en Willem is nie gelukkig met Amorey se besluite nie.

15 – 16 JANUARIE
Bonita is opgewonde oor die nuwe hoofstuk in haar lewe, André gee Hettie regsadvies, en Aggie en Vanessa stamp koppe.

BINNELANDERS
Weekdae – 19:30
kykNET

VERLEDE KEER
Ferdi se obsessiewe gedrag het vererger, Damien was bekommerd oor Ruben se motiewe, en Jana het ’n senu-ineenstorting gekry.

3 – 5 JANUARIE
Naomi is bekommerd oor Trudie, At vra Jana om verskoning, Karli soek ontvlugting, en Ruben vermy Lexi. Ferdi se optrede maak Naomi meer verward en paranoïes, en Louis moedig Karli aan om haar ma te besoek. Louis is bekommerd oor Naomi, Karli en Louis is onseker oor At se idee, en Marike word gedreig.

8 – 12 JANUARIE
At maak Lika ’n aanbod, Morné se driftige reaksie verbaas Naomi, en Louis en Karli se gekarring begin op iemand se senuwees werk. Ilse dink Morné het Ferdi getart, Louis is ingenome met Lika, en Morné praat reguit met Naomi. Jana vertel Louis van haar vrese, en At vra Lika se raad oor die partytjie. Ilse het onbeantwoorde vrae, maar Conrad en Annelize hoop At het antwoorde oor Jana. Naomi reageer vreemd teenoor ’n bewustelose pasiënt, At gee Jana ’n antwoord, en Ruben vra Lexi amptelik uit op ’n afspraak. Ferdi gee Naomi gemoedsrus, en Jana se eerlike gesprek met Karli lei tot meer as net een skok-aankondiging.

15 – 16 JANUARIE
Pippa word onkant gevang deur ’n kuiergas, Naomi se lewe stort in duie, Dirk probeer die beste van ’n slegte saak maak, en Ferdi speel op Wimpie se gevoelens.

GETROUD MET RUGBY
Weekdae – 21:00
kykNET

VERLEDE KEER
Lorette en Dolf het kom kuier en aangekondig Lorette is swanger, Fafa en Maryke se pienkvoet is gebore, en Sasha het Reitz oor sy vorige verhouding met Anna gekonfronteer.

3 – 5 JANUARIE
Schalk bedink ’n plan om Bart met sy eie slap riem te vang, Reitz het slegte nuus vir Anna, en Bart reageer op Schalk se lokval. Kristien word gekonfronteer met ’n skandaal uit haar verlede, en Sasha vind dis moeiliker om Anna te vermy as wat sy gedink het. Kristien reik na Renate uit vir hulp, en Sasha se probleem met Anna begin al die Bekkers raak.

8 – 12 JANUARIE
Schalk konfronteer Bart oor die uitslae van die dwelmtoetse, Kristien is desperaat om Ronnie se afpersing stop te sit, en Sasha en Reitz nader hul vriende vir raad oor hul verhouding. Bart se magsposisie teenoor Liam verswak, Renate kom tot Kristien se redding, en Sasha reik ’n hand van vriendskap na Anna. Schalk kry ’n nuwe rekenaar, Maryke ontvang vreemde foonoproepe, en Blitz het ’n ongemaklike afspraak met Silvia. Maryke raak paranoïes oor die aanhoudende oproepe, Simon en Renate probeer sekerheid kry oor in vitro-bevrugting, en Blitz besef hy voel meer vir Silvia as wat hy gedink het.

15 – 16 JANUARIE
Maryke kry ’n ongewenste kuiergas uit haar verlede, maar sy weier om met haar pa te praat, en Bart en Schalk werk aan hul afsonderlike planne om mekaar te kelder.

SUIDOOSTER
Maandag tot Donderdag – 18:30
kykNET en kykNET & kie

VERLEDE KEER
Nuraan het van Rhafiek se gevoelens vir Carmen uitgevind, en Ty en Wade het ’n Kerskonsert in die Suidooster-sentrum gereël.

3 – 4 JANUARIE
Michelle en Stefan sukkel om Emma te hanteer, Lee-Ann help Bridgette ’n fondsinsameling beplan, en Carmen neem ’n besluit oor haar toekoms. Die hele Ruiterbosch kom bymekaar om Mrs. J by te staan, Michelle is radeloos oor waar Emma haar bevind, en ’n moeilike dag lê vir Rhafiek voor.

8 – 11 JANUARIE
AB is woedend vir Rhafiek wat die verlowing verbreek het en nou gaan AB boonop met Kamaal te doen kry. Dit lyk of Emma uiteindelik Michelle se hulp aanvaar, en Mrs. J en Ronald geniet mekaar se geselskap ál meer. Lee-Ann dink daar skuil meer agter Ronald se besoeke aan Mrs. J, Ty moet ’n belangrike besluit neem, en Lee-Ann raak ál meer agterdogtig oor Ronald, maar Bridgette stem nie saam nie. Tim wil graag aan ’n projek in die Bo-Kaap werk, en Michelle vra Chris om na Emma se ma te help soek. Siya wil by Lee-Ann weet hoekom sy Ronald verbied het om Mrs. J te besoek, Wade praat met Emma oor sy verlede, en die Samsodiens sit weer vas oor Rhafiek se besluite.

15 – 16 JANUARIE
Tim onthul waaraan hy gewerk het, en die Samsodiens neem ’n belangrike besluit wat hopelik die vrede sal herstel. Ronald hou niks van Bridgette, Lee-Ann en Siya se inmengery in sy en Mrs. J se verhouding nie. Ty dink hy kan Ian manipuleer, en Tim kry ’n werkaanbod.