RSG en Lefra Produksies se baie suksesvolle Oppiwater Kunstefees vaar vanjaar van 15 tot 20 April op die MSC Sinfonia van Durban na Mosambiek. Feesgangers kan gaan garnale eet by die legendariese Polermo Hotel in Maputo, heerlik ontspan op die Portugese Eilande en dan ook die nuwe bestemming – Pomene – besoek, wat baie moeilik per land bereikbaar is.

Die hoofdis is egter ’n volwaardige kunstefees aan boord van die MSC Sinfonia met meer as twintig top Afrikaanse produksies.  Die program vir Oppiwater is pas bekend gemaak.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies en organiseerders van die Oppiwater Kunstefees, sê hy is baie opgewonde oor vanjaar se kunstefeesprogram. “Dit bly natuurlik elke jaar ’n uitdaging om te besluit watter wonderlike produksies saamgaan op ons kunsskippie. Dit is egter altyd vir ons belangrik om ’n baie groot verskeidenheid van alle teatergenres vir ons feesgangers aan te bied. Daar is drama, komedie, poësie, dans, woordkuns, musiek en sang. Ons besef maar te goed dat Oppiwater eerstens ’n vakansie-ervaring vir ons passasiers moet wees – daarom is daar ook heerlike dekpartytjies waar ons baie lekker gaan partytjie.”  

Swart sê die uitdaging lê daarin om meer as twintig verskillende Afrikaanse produksies in hierdie week in te pas. “Dit is nogal ’n groot uitdaging vir my span om soveel produksies in en uit te trek in ’n beperkte tyd en veral ook beperkte spasie. Maar ons doen dit nou reeds vir vyf jaar – so ons het reeds die kuns bemeester om vir ons mense ’n ongelooflike kunstefees aan te bied.”

Hy sê ook dat Oppiwater baie trots is om vir ’n Fiësta-toekenning genomineer te wees as een van die vier beste kunstefeeste in die land.

Coenie de Villiers se Tien Vingers is sekerlik een van die groot gunstelinge vir die Oppiwater Kunstefees. Daar is egter ook die klug, My man se skelmpie se vrou, die Boerneef-huldeblyk, Flennie die Snare met Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein, Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg, Randall Wicomb en Hans du Plessis se Griekwapsalms herleef in Voete van ’n gemsbok, Lizz Meiring is te sien in Met Ander Woorde en vele meer.

RSG se omroepers Johan Rademan, Sue Pyler, Ettienne Ludick en Fritz Klaaste is jou gashere en gasvrou.

Besprekings vir die Oppiwater Kunstefees kan gedoen word by MSC Cruises deur hulle te skakel op 0860 11 44 11 of aanlyn by www.oppiwater.co.za. Vir meer inligting, skakel Lefra Produksies by (011) 815 3000 of stuur ’n e-pos aan info@lefra.com.

Fooie sluit natuurlik verblyf en alle etes op die kunsskippie in. Dit sluit ook ’n vermaakfooi in wat feesgangers sal toelaat om hul produksies teen baie lae gesubsidieerde kaartjiepryse te bespreek wat wissel van R10 tot R90 per kaartjie.  

Feesgangers word aanbeveel om reeds nou kaartjies in Suid-Afrika by enige tak van Computicket te bespreek. Kaartjies sal wel aan boord die MSC Sinfonia beskikbaar wees, maar dan sal feesgangers in dollars moet betaal wat natuurlik baie duurder gaan wees as om in rand in Suid-Afrika te bespreek.  

Besprekings kan by Computicket gedoen word deur 0861 915 8000 te skakel of by www.computicket.com. Daar is ook takke van Computicket by alle Checkers- en Shoprite-winkels. Om aanlyn te bespreek, gaan na die  skakel. Klik hier

Vir die volledige feesprogram en presiese optreetye en venue-inligting, klik hier.