Nasionale Rooibosdag het gekom en gegaan en dit was ’n reuse sukses! Die spesiale dag is vanjaar vir die tweede keer aangebied en het behoorlik sosiale media aan die gons gehad. Die gemeenskap van Clanwilliam het uit hul pad gegaan om hierdie spesiale Suid-Afrikaanse produk in die hartjie van die Rooibosparadys op 16 Januarie te vereer. Van heinde en verre het verskeie mense en maatskappye hierdie dag op die een of ander manier gevier.

Clanwilliam Sakekamer, KLS Consulting in Durbanville, Malmesbury Mediese Sentrum, Radio Namakwaland, Stellar Winery, Rooi Rose, Klawer Wynkelder en nog vele meer het almal buite die Rooibos Roete ’n koppie Rooibostee of van hulle spesiale Rooibosprodukte geniet en foto’s en video’s op sosiale media gedeel.

Clanwilliam was behoorlik in rooi getooi vir die spesiale dag en daar was ’n feestelike atmosfeer terwyl almal Rooibos gevier het. Nancy’s Tea Room, Rooibos Tea House by Netmar, Vogue modes, Floris Restaurant, Clanwilliam Kaap Agri, Bean Tree, Velskoendraai en Rooibos Beperk is van die besighede wat saam feesgevier het.

Die Nuwe Graskoue Trappers het weer eens nie teleurgestel nie. Dit was omtrent ’n belewenis om hulle by Rooibos Beperk en Clanwilliam Tea House te sien optree en die toeskouers het dit terdee geniet! Die rieldansers het groot opwinding veroorsaak met hul energieke danse wat hulde gebring het aan Nasionale Rooibosdag.

Willem Botha, Leah, Brendon Peyper, Elvis Blue, Pieter Koen en verskeie ander bekendes het almal op sosiale media vertel hoe hulle Rooibosdag gaan geniet en het ander ook aangemoedig om hulle Rooibosdag-oomblikke te deel.

Rooibosprodukte en versnaperinge was in oorvloed gewees. Alles van Rooibos skoonheidsprodukte, kaaskoek, oliebolle, kolwyntjies en natuurlik tee, asook vele meer, is geniet.

Almal sien vreeslik uit om volgende jaar weer ons eg Suid-Afikaanse Rooibos te vier, so merk die datum sommer nou al in jou kalender!

Om meer video’s en foto’s van Nasionale Rooibosdag te sien, besoek gerus Rooibosdag se Facebook-blad (@Rooibosday). Jy kan ook op hulle Twitter- en Instagram-profiele gaan loer.