Kom geniet baie bekende Boerneef-liedjies soos Voshaarnooi, Nalekokers en Die berggans het ’n veer laat val, maar kom beleef splinternuwe toonsettings deur Chris Chameleon, Rudolph Pretorius, Jaconell Mouton, Daniella Deysel en Anna Davel. Kom beleef ook wonderlike poësie, prosa en toneel soos wat net Boerneef dit kon skryf.  Kom verdwaal in die wêreld van Boerneef, die wêreld van die Koue Bokkeveld, sy wêreld waar woord klank word.  

Flennie die Snare word aangebied met die ruim ondersteuning van die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees, en die samewerking van Stuttaford van Lines, Hollywood Costumes,  RSG, en Sounds Good.

Flennie die Snare se woorde verskyn in 1959 in een van Boerneef se gedigte in sy tweede bundel Ghaap en kambro. In 1986 skep Louis van Rensburg die ikoniese lied Voshaarnooi deur drie van Boerneef se gedigte te kombineer en te toonset.  Voshaarnooi word gebruik as ’n temalied vir die televisiereeks Ballade vir ’n Enkeling.  Boerneef was skrywer, digter, leksikograaf en akademikus, en laat ’n skatkis van prosa en poësie agter ná sy afsterwe op 2 Julie 1967.  En nou, 51 jaar na sy dood, word Boerneef vereer in woord en klank in die produksie Flennie die Snare.

Frans Swart is die regisseur en ook skrywer en verwerker van Flennie die Snare.  Hy is ’n Boerneef-liefhebber en het reeds dertig jaar gelede ’n Boerneef-produksie saam met die PATSO-toneelspelers aangepak. “Flennie die Snare is baie persoonlik vir my. Juffrou Aletta Gericke van die ADK was my mentor en het my al baie vroeg in my lewe bekend gestel aan die wonderwêreld van Boerneef. Daardie woorde wat klank en musiek word. Kyk man, ons moes Boerneef vir juffrou Aletta doen tot dit by ons ore uitkom. Ironies genoeg, toe ek my eie dramaskool jare gelede gehad het, moes die dramastudente ook Boerneef doen tot dit by hulle ore uitkom,” sê hy.

Frans lag lekker en sê Flennie die Snare het eintlik net gewag om te gebeur. “Dit moes gebeur! Een dag gesels ek met Philna Scholtz van die Innibos Kunstefees, wat net so lief is vir poësie soos ek is en ek sê dis nou tyd vir ’n Boerneef-produksie. Net daar sê Philna toe – maar kom ons doen Boerneef. Ons hier by Innibos gaan jou help om Flennie die Snare op die planke kry!  En so is Flennie gebore”.

Swart is veral opgewonde oor die rolverdeling. “Alles het net in plek geval. Ek wou so graag vir Chris Chameleon gehad het om in Flennie op te tree. Nie net as sanger nie, maar ook as akteur. Chris het onmiddellik ja gesê en hy bring ’n ongelooflike kreatiwiteit na die produksie toe. Anna Davel het ’n wonderlike stemgehalte maar sy is ook ’n besonders talentvolle aktrise. Anna bring daardie nostalgiese musikaliteit, sy sing en speel toneel. Johny Klein is akteur van formaat en ons het hom in die diepkant ingegooi, want in hierdie produksie gaan jy ook vir Johny hoor sing.  Danielle Deysel is ook sangeres en aktrise en Daniella bring veral Boerneef se speelsheid na die produksie.”

Wat kan gehore te wagte wees? Frans antwoord entoesiasties: “Pret en nogmaals pret.  Baie mooi sang en musiek, toneel, poësie, lekkerlag komedie en baie hartseer drama en nostalgie. Hope daarvan. Jy weet Boerneef was ’n volksdigter en ’n volksskrywer. Hy het oor alledaagse mense en dinge geskryf. Hy het ook geskryf soos die mense die taal gepraat het daar in die Koue Bokkeveld. Hy het hom ook min gesteur aan wat die letterkundiges van die tyd oor sy werk gesê het. Hy het geskryf oor dit wat vir hom lekker en mooi was. Ek spot altyd en sê hy was eintlik soos die Lefra van daardie tyd se letterkunde. Eerlik, maar lekker kommersieel.  Mense moenie ’n swaar letterkundige affêre verwag nie – Flennie die Snare is lig en loslit en Boerneef se woorde steeds so vol klanke en musiek soos altyd. En ek kan ook ’n geheimpie uitlap – die orkes speel ook toneel.  So as jy altyd vir Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg as akteurs wou sien, mag jy nie Flennie die Snare misloop nie.”

Flennie die Snare is ’n heerlike loslit huldeblyproduksie aan Boerneef met die ikoniese Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein en Daniella Deysel.  Jaconell Mouton is die musikale regisseur met Mauritz Lotz (kitaar) en Riaan van Rensburg (perkussie).  Die teks en regie is deur Frans Swart behartig. Flennie die Snare word op Sondag, 28 Januarie om 15:00 by die Universiteit van Johannesburg se Teater opgevoer.  Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000 of by www.computicket.com. Groepe meer as 10 kry afslag. Skakel vir Monica by (011) 815 3000 of besoek www.lefra.com of stuur ’n e-pos aan admin@lefra.com vir meer besonderhede.

WEN KAARTJIES NA FLENNIE DIE SNARE BY DIE UNIVERSITEIT VAN JOHANNESBURG SE TEATER

Drie lesers kan elkeen ’n dubbelkaartjie wen na die vertoning van Flennie die Snare by die Universiteit van Johannesburg se Teater op 28 Januarie. Om deel te neem aan Sterre en Lefra Produksies se kompetisie, kan jy die volgende na 33000 SMS: LEFRA FLENNIE STERRE dan JOU NAAM EN VAN en dan JOU STAD OF DORP. Dieselfde inligting kan ook per e-pos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & STERRE FLENNIE KOMPETISIE as onderwerp.  Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die redakteur is finaal.  SMS’e kos R1,50 elk. Bepalings en voorwaardes geld.