Lefra Produksies het in 2017 die bekroonde Fiela se Kind deur Dalene Matthee opgevoer en landwyd getoer. As gevolg van die belangstelling en ongekende sukses van Fiela se Kind, het Lefra Produksies besluit om voort te gaan met die opvoering in 2018.  

“Fiela se Kind leen hom werklik so goed vir die verhoog. Dis so ’n wonderlike storie wat duidelik sê dat die liefde alles oorwin. En die storie is so universeel en tydloos,” sê Frans Swart, regisseur van dié produksie.  

“Ons was oorweldig met die sukses van Fiela verlede jaar en juis daarom het ons besluit om vanjaar voort te gaan met hierdie epiese werk,” vertel hy verder.

Vian Singleton, wat verlede jaar die rol van Benjamin/Lukas (Fiela se optelkind) gespeel het, het die afgelope jaar baie gegroei en uiteindelik die “Fiela-bad” uitgegroei.  

Regisseur Frans Swart sê dat Vian ’n uitstekende vertolking van die rol van Benjamin/Lukas gedoen het. “Ons is hartseer om van hom afskeid te neem, maar skielik pas die lummel van ’n seun nie meer mooi lekker in Fiela se bad nie. Dis ongelukkig so ’n ikoniese toneel, dat ons ’n kleiner seuntjie sal moet kry. Vian en Phillru van Achterbergh wat die groot Benjamin speel het ook baie goed teenoor mekaar gespeel. Inteendeel, lyk hulle op ’n haar na mekaar. Vian het ook onlangs Broadway World se toekenning gewen as beste ondersteunende akteur vir 2017. So, die soektog is aan om die volgende Benjamin te vind!”

Oudisies word tans gedoen vir die jonger Benjamin/Lukas. Dit moet ’n blanke seun wees tussen 10 en 14 jaar en verkieslik klein gebou. Die seun moet bruin hare hê. Indien hy nie bruin hare het nie, moet hy bereid wees dat sy hare bruin gekleur word. Drama-ondervinding en -opleiding is ’n pluspunt, maar nie ’n vereiste nie.

Daar sal ook oudisies gehou word vir Willem, seun van Barta en Elias. Vir dié rol moet akteurs 12 tot 17 jaar oud wees. Die karakter bly in ’n bos, dus moet die akteur seningrig en fris wees, want hy werk baie by die bome.

Belangstellendes kan CV’s en ’n onlangse foto e-pos aan admin@lefra.com. Dit is ook belangrik om presies aan te dui vir watter rol ’n oudisie afgelê wil word. Vir meer inligting, skakel gerus vir Charl Senekal by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos aan info@lefra.com.