Bobby van Jaarsveld-aanhangers gaan binnekort die geleentheid kry om dié sanger as komedie-akteur in ’n nuwe kykNET-sitkom te sien.

Bobby vertolk die rol van Rossouw in dié reeks wat Mense Mense heet. Die sanger het volgens kykNET vroeër die konsep vir die komedie aan die kanaal voorgelê en was ook deel van die skrywerspan.

Mense Mense vertel die verhaal van Rossouw wat by sy universiteitsvriende Julien (Solomon Cupido) en Liesl (Crystal-Donna Roberts) aansluit om ’n nuwe lewe in die groot stad te begin wanneer sy huwelik op die rotse is.

Die eienaar van die gebou waar die groep vriende woon, Mientjie (Sandra Prinsloo) se speelse en ontydige gekonkel verseker dat Rossouw in haar mikrobrouery op die grondverdieping van die woonstelblok werk.

Mientjie neem ook haar susterskind, Salomé (Lea Viviers), onder haar vlerk wanneer sy haar werk as verkoopsverteenwoordiger van ’n plaaslike distilleerdery verloor.

Saam met Rossouw in die kelder van die gebou is ook Julien en Sebastian (Reynardt Slabbert) wat hul app bestuur en Liesl wat droom van ’n wit rok terwyl sy vraestelle merk en vir haar lesse voorberei.

Volgens kykNET se bemarkingspan vertel Mense Mense ’n storie van vriendskap, verhoudings en volwassenheid – maar veral oor die onwrikbare liefde tussen vreemdelinge wat familie word.

Die akteur en regisseur Pierre van Pletzen is aan die stuur van sake agter die kameras en word ondersteun deur die bekroonde teater-regisseur Nico Scheepers wat na die spelleiding omsien.

Die reeks word deur Nouvanaand Films vervaardig. Mense Mense word van 9 April om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.