Bly ophoogte van jou gunsteling sepie. Hier is die hoogtepunte vir 31 Januaie tot 13 Februarie.

7DE LAAN
Weekdae – 18:00
SABC2

VERLEDE KEER
Fikani het besef Rickus het gevoelens vir Olivia, Mariaan het uitgevind sy is as kind aangeneem, en Matrone is met gesteelde juwele betrap.

31 JANUARIE – 2 FEBRUARIE
Nozi besef haar toekomsplanne kan moontlik ander mense beïnvloed, Hilda neem ’n groot besluit oor haar toekoms en oorweeg dit om met Mariaan te gaan praat, en Chris ondersteun Amorey se planne om oorsee te gaan werk. Matrone verklap Olivia se geheim aan Rickus, wat hul verhouding kan beïnvloed, Xander sit sy voet dwars met Lesedi wat sy hofsaak hanteer, en Charmaine maak planne vir haar vakansie.

5 – 9 FEBRUARIE
Matrone sit Connie op haar plek, Amorey vra Hilda se hulp met ’n resep van haar ouma Betsie wat sy wil maak, en Hilda raak emosioneel wanneer sy besef sy het kleinkinders van wie sy nie geweet het nie. Rickus is dankbaar vir Esti se hulp in ’n moeilike tyd, Vernon kry ’n waarskuwing, en Bonita en Jacob sit nie langs dieselfde vuur nie. Hettie kry goeie nuus oor of sy Karmen weer kan sien, en Nozi kry die skok van haar lewe. Rickus is nie gelukkig met Olivia en haar loopbaanbesluite nie, en Mariaan is geskok wanneer Chris hartseer nuus met haar deel.

12 – 13 FEBRUARIE
Lesedi is nog nie reg om André te vergewe nie, Marko vind uit Esti steek iets vir hom weg, en Aggie is opgewonde oor die komende Valentynsdagkompetisie wat sy reël.

BINNELANDERS
Weekdae – 19:30
kykNET

VERLEDE KEER
Naomi het Ferdi van die trap afgestamp en hy was bewusteloos, en Ruben se weergawe van Ferdi se val in die Ferreira-huis het kapt. Liebenberg nog meer vrae laat vra.

31 JANUARIE – 2 FEBRUARIE
Okkie sukkel met leuens, Naomi word ontstig deur nuus oor Ferdi, en die gewraakte vuishou kom spook weer by Okkie. Die kuberruim jaag At die harnas in, Busi is terug in Pretoria, en die joernalis Ciske Smal se speurwerk werp vrugte af. Daar is uiteenlopende reaksies op ’n inhegtenisneming. Dirk word na ongevalle gejaag, en die Ferreiras moet hul stories laat klop.

5 – 9 FEBRUARIE
Karli se woorde maak Lika ongemaklik, At verneder Okkie in Tonik, en Ciske se storie kort meer vleis. Lexi se eerste dag by die universiteit breek aan. Okkie kry ’n ontstellende oproep – Naomi wil polisie toe gaan, en Dirk het ’n geskenk vir Ami. Herman is woedend oor die huidige situasie, Ilse is kwaad vir Okkie, en Naomi se klag verander. Okkie besef Wimpie is gebroke, en Wimpie is op die oorlogspad. Dirk speel oop kaarte met Pippa oor Cecile, Wimpie glo in Ferdi se onskuld, en Naomi word in hegtenis geneem.

12 – 13 FEBRUARIE
Pippa tree by At in die bres vir Naomi, en Karen wil Wimpie help om wraak te neem. Wimpie is onseker of hy die prys van vergelding wil betaal.

GETROUD MET RUGBY
Weekdae – 21:00
kykNET

VERLEDE KEER
Maryke het teensinnig saam met haar vervreemde pa, Sakkie, gaan eet, Schalk se verlede het struweling tussen hom en Iva veroorsaak, en Bart moes voor die Stryders-raad verskyn.

31 JANUARIE – 2 FEBRUARIE
Sasha vertrek op haar toer en los dinge onopgelos met Reitz, Bart probeer uitvind wie die ondersoek teen hom gaan lei, en die groot dag breek aan vir Renate se in vitro-behandeling. Maryke oorspeel haar hand met Koekie, Blitz kry gemengde seine by almal oor Silvia se verjaardagpartytjie, en Lindy vertel Iva van ’n opwindende werkgeleentheid.

5 – 9 FEBRUARIE
Blitz kry Renate se hulp met Silvia se partytjie, Maryke probeer Koekie oorreed om terug te trek huis toe, en TJ is nie gelukkig by sy nuwe skool nie. Reitz en Sasha sukkel om die vorige aand se ongemaklikheid te vergeet, Iva probeer Silvia gerusstel oor haar toekoms, en Fafa besef iets is nie pluis met hul finansies nie. Silvia worstel nog met vrae oor haar toekoms, en Blitz skarrel met die reëlings vir haar verrassingspartytjie. Reitz doen sy bes om tot Sasha deur te dring, Koekie en Fafa kom tot ’n ooreenkoms oor haar skuld, en dis Sasha se laaste optrede by Potties.

12 – 13 FEBRUARIE
Renate en Simon kry die resultate van die in vitro-behandeling, en Koekie leer Fafa ’n les met sy koekie-bestelling. Reitz en Sasha sien op daarteen om alleen te wees op Valentynsdag, en Bart hoor wat die uitslag van die ondersoek teen hom is.

SUIDOOSTER
Maandag tot Donderdag – 18:30
kykNET en kykNET & kie

VERLEDE KEER
Michelle het gedink sy en Emma het mekaar beter verstaan, Mrs. J en Ronald het hul liefde vir mekaar verklaar, en Danni en Zoe het teen mekaar in ’n fiksheid-en-skoonheidskompetisie deelgeneem.

31 JANUARIE – 1 FEBRUARIE
Mrs. J en Ronald neem afskeid en daar is ’n nuwe wending in Mrs. J se stryd teen kanker. Emma hou by haar voorneme om haarself nie meer te sny nie, maar ’n onverwagte besoeker daag op wat alles kan omverwerp, en die hele Ruiterbosch is angstig oor wat met Mrs. J gaan gebeur. Mymoena is bang sy gaan Rhafiek verloor, en Danni is niks lus vir haar tydskrifonderhoud nie.

5 – 8 FEBRUARIE
Emma se ma, Bernice, vra Michelle om bemiddelaar te wees tussen haar en haar dogter, Rhafiek neem ’n besluit, en iemand daag onverwags by Mrs. J se siekbed op. Die artikel oor Danni verskyn en sy is ontsteld oor die inhoud, en Rhafiek vind uit hy kan by ’n woonstel intrek. Danni haat die nuwe kollig op haar lewe, Ty moet ’n moeilike besluit neem, en Mymoena help Rhafiek met sy nuwe avontuur. Bernice wil vir Emma kom kuier, en Michelle begin wonder of sy die regte ding doen met Emma. Lee-Ann vat Bridgette aan oor haar houding, en daar wag ’n groot skok op Danni.

12 – 13 FEBRUARIE
Danni se pa bring nuwe onthullings wat die Du Plooys skok, en Ty kry slegte nuus oor sy stamselskenking. Ronald maak ’n voorstel wat Mrs. J laat wonder, en die Jacobs-susters is ontstoke wanneer hulle uitvind Wade en Ty was by Mrs. J. Michelle wonder oor Emma se ware gevoelens, en Simon maak die lewe moeilik vir Danielle.