Lee-Ann van Rooi vertolk die rol van Gerwin, ’n laerskoolonderwyseres, in die opwindende kykNET-televisiereeks Die Boekklub. Ons het met Lee-Ann gesels om meer oor haar deel in dié baanbreker-reeks uit te vind.

Vertel ons meer van jou karakter Gerwin.
Gerwin is voor die kansel gelos en aanvaar toe die eerste beskikbare onderwyspos in Merweville. Sy koop ’n huis in die dorp met erfgeld en is reg om weer van vooraf te begin, maar dan is daar hierdie aantreklike boer… en die arme kind wat bly opdaag!

Hoekom dink jy sal mense met Gerwin kan identifiseer?
Sy is snaaks, doelgerig en liefdevol, maar sy sukkel om ’n lewensmaat te vind.

Wat is jou gunstelingplek op stel?
Voor die kamera, natuurlik. Ek hou van werk. Ek kan nie lank stilsit nie.

Hoe lyk ’n normale dag op stel?
“Hurry up and wait” soos hulle sê. Dit hang af of die karakter wat jy speel baie betrokke is in die storielyn op daardie dag, of nie. Maar gewoonlik is dit vroeg op, die feetjies in make-up and wardrobe wat jou mooi en kwaai laat lyk, en dan werk.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Omdat werk my baie besig hou, soek ek stilte. Ek loop graag met my hond, Liquorice, strand af en berg-op, en speel met my sewejarige dogtertjie. En slaap.

Watter episode was tot dusvêr jou gunsteling om te verfilm?
Spokejag in episode vyf was vet pret! Ook die Harry Potter-episode (Episode drie).

Waarom dink jy hou so baie kykers van Die Boekklub?
Dis nuut, met ongelooflike karakters en die teks is en fenomenaal. Amazing skrywers. Quentin Krog se oog, styl en manier het ons so mooi, sterk ondersteun. Hy is ’n wonderwerk. Hy het nooit sy cool verloor nie.

Watter karakter se storie is vir jou die interessantste?
Jana Cilliers se karakter, Anna. Sterk vrou, gebreekte liggaam, ’n siener.

*Lee-Ann is ook in verhoogstukke, onder andere Fiela se Kind, te sien. Fiela se Kind is vanjaar by die Suidoosterfees te sien.