Lefra Produksies se baie suksesvolle produksie, Fiela se Kind met Shaleen Surtie-Richards in die rol van Fiela, het in 2017 ongekende suksesse beleef. As gevolg van hierdie uitverkoopte teaters en suksesse het Lefra Produksies besluit om Fiela se Kind weer in 2018 regoor Suid-Afrika aan te bied. Fiela se Kind – die drama is ook weer eens voorgeskryf vanjaar vir matrieks in Afrikaans addisionele taal. “Dit was wonderlik om in 2017 soveel kinders by hierdie besondere produksie te gehad het. Al die Afrikaanse onderwysers was dit eens dat die opvoering van Fiela hulle leerders ongelooflik baie gehelp het, sê regisseur en vervaardiger, Frans Swart.

“Ná die groot suksesse wat Fiela behaal het, het ons besluit om voort te gaan met hierdie produksie en vanjaar weer regoor die land te toer. Dit was nog altyd Lefra se motto dat ons teater na die mense toe bring. Daar was seker nie een speelvak waar ons nie uitverkoop was en ekstra vertonings moes skeduleer nie.  Dis lekker, want as teater so goed doen, is daar nog ’n kans vir teater in SA.”

Vian Singleton het die Klein Benjamin in 2017 gespeel en Phillru van Achterbergh die ouer Benjamin. “Vian het klein Benjamin/Lukas briljant vertolk – soveel so dat hy ’n Broadway World-toekenning gewen het as die beste ondersteunende akteur in 2017. Maar soos dit met 12-jarige seuntjies gaan – hulle rek oornag! Toe ons in Januarie met repetisies vir Fiela begin het, het ek onmiddellik besef dat Vian te groot en lank geword het. ’n Mens moet onthou dat Benjamin, wat sy ma se oogappel was, klein en baie kwesbaar moet wees.

Om geloofwaardigheid aan Dalene Matthee se teks te gee, moes ons die moeilike besluit neem om Vian as Benjamin/Lukas te vervang.” Swart sê hulle het meer as 100 seuntjies vir oudisies gesien en uiteindelik besluit om die rol van Benjamin/Lukas aan Eloff Snyman toe te ken. Die jong akteur, wat reeds van vroeë ouderdom in advertensies speel, het verlede jaar sy rolprentdebuut gemaak in die fliek, Liewe Kersvader. Eloff is ’n Graad 7-leerder van die Laerskool Durbanville in Kaapstad. Sy pa is die bekende Christo Snyman van Broers-faam en sy ma, Danel, is ’n arbeidsterapeut.

Fiela se Kind word van 7-18 Februarie by Carnival City se Mardi Gras-teater opgevoer. Besprekings kan gedoen word by Computicket by 0861 915 8000. Skoolgroepe kry baie spesiale lae kaartjiepryse. Skakel Lefra Produksies by (011) 815 3000 of e-pos aan admin@lefra.com. Meer inligting is beskikbaar by www.fielasekind.co.za

Die bekende aktrise en sangeres, Zenobia Kloppers, ook van die Kaap, sal vir Shaleen Surtie-Richards instaan vir die rol van Fiela vir die Carnival City-speelvak aangesien Shaleen tans onder hewige werksdrukte is om die televisiereeks, Broken Vows, te voltooi. Shaleen sal egter in Maart terug wees as Fiela vir onder meer die Suidoosterfees en ander optredes.

Zenobia het reeds Fiela vertolk met die vorige produksie wat Lefra Produksies aangebied het.  “Zenobia ken Fiela deur en deur en ons is baie opgewonde dat sy ingewillig het om hierdie twee weke speelvak by Carnival City vir ons te speel,” sê regisseur, Frans Swart.  Zenobia het drama by die Universiteit van Kaapstad studeer en het reeds verskeie rolle vertolk onder meer in Ghoema, Antjiesomers, The Queen of the Night, Die Zauberflote, Amadeus en vele meer. Sy het ook reeds Fiela in Fiela se Kind vertolk. Haar onlangse vertolking van Poppie in RSG se Die Swerfjare van Poppie Nongena het uitstekende reaksie uitgelok.

Paul Lückhoff wat tans baie gewild is in Binnelanders as Oom Wimpie, speel Elias, die Bosman.  Sy vrou, Bartha, word gespeel deur Edrien Erasmus. Phillru van Achterbergh (Revue) speel die groot Benjamin en Marissa Claasen (Liewe Heksie) speel die groot Nina. Die klein Nina word vertolk deur Jaimie du Toit. Johny Klein (Flennie die Snare, Villa Rosa) speel Selling, Fiela se man.

Bespreek nou vir Fiela se Kind by Carnival City se Mardi Gras van 7-18 Februarie by Computicket.