Joubert Botha het ná universiteit sy eerste onderneming begin. Dié onderneming het gespesialiseer in sagteware wat programmering gedoen het vir ’n paar besighede in die Oos-Kaap area waaronder Coca-Cola, Dimension Data, BKB.

“Die idee was altyd om passiewe inkomste oor die internet te verdien, sodat ek nie net my tyd net vir geld verruil en ook van enige plek in die wêreld kon werk,” vertel Botha.  

Volgens Botha het hy tot onlangs sy eie besighede befonds. “Meeste aanlyn-besighede kan van die grond af kom sonder ’n groot oorspronklike kapitaal uitleg as jy die regte sakevennote het. ’n Deel van die inkomste wat ek bekom het deur my konsultasiewerk, het ek belê in nuwe projekte. Ek het onder meer een van die eerste aanlyndienste vir voertuig-huurprysvergelykings in Brittanje begin. Die besigheid is ’n jaar later, tesame met my hotelbesprekingsbesigheid, Checkin4less, verkoop om verdere projekte te befonds,” sê hy.

Botha het ook ’n groot sosiale media voetspoor, en volgens hom is dit te danke aan sy twee grootste sosiale media blaaie, JobVine en Hashtag Radio. “JobVine het tans die grootste Twitter-gemeenskap ter wêreld in die HR-landskap,” sê hy.

Hoe hou hy kop bo water? Maklik! “Met aanlyn-besighede moet jy bou om binne twee jaar te verkoop,” vertel Botha. Hy sê die pad van ’n entrepreneur is nogals eensaam, daarom stel hy altyd voor om die regte besigheidsvennote te nader.    

Sy grootste fokus is op JobVine Global, ’n nuwe besigheid wat hy gestig het om twee nuwe HR-produkte in verskeie lande te bied. Dié onderneming is reeds in 23 lande, met die hoofkwartier in London.

Oor vyf jaar sien hy homself om meer betrokke te raak by “tech startups”, en wil belegger en mentor wees. “Daar is baie talentvolle entrepreneurs wat nie die mas opkom nie omdat hulle nie oor die nodige kennis beskik nie. Ek wil graag my kennis oordra,” vertel hy.

By die huis is Joubert nét so besig. “Ek kan nie stil sit nie,” verklap hy. Hy is gedurig op sy skootrekenaar of selfoon, maar wanneer daar afgeskakel moet word, bestee hy tyd met vriende en geliefdes by goeie restaurante. Om die wêreld te verken is ook hoog op sy lys.

Sy raad aan jonger entrepreneurs en vir homself 10 jaar terug sou wees: “Moenie bang wees om groter te dink. Kies die regte vennote, moenie alles alleen probeer doen en begin so gou as moontlik geld insamel.”