Dalk het hy al vir ’n geruime tydjie soos ’n akteur begin voel as mens in ag neem die musiekvideo van sy treffer, Skepe, is reeds meer as 2 miljoen keer op YouTube gekyk.

Maar nou het Jo Black en sy baard die grootskerm betree met die aankondiging dat hy sy opwagting gaan maak in die rolprent Susters.

Jo sluit aan by ’n sterk rolverdeling wat Leah, Quanita Adams en Diaan Lawrenson in die hoofrolle insluit. Dié verhaal gaan oor drie aangenome susters wat van mekaar vervreemd geraak het en hoe hulle op ’n ontdekkingsreis gaan met die afsterwe van hul moeder. Dis ’n reis gevul met tere herinneringe, interessante karakters, ongelooflike mooi plekke en dit wat die skoner geslag baie goed mee is – hoe om sakke vol pret te hê.

Die rol self is volgens Jo kleinerig, maar hy speel homself en ten minste het hy “baie ervaring in die vertolking van daardie rol.” Fliekvlooie kan selfs ’n paar blomme in daai baard van hom te wagte wees.

Moeilik om te dink dat hy tussen sy besige program gevul met konserte en Be That Guy verskynings by skole regoor die land, nog tyd kon inruim vir ‘n rolprent ook. As mens hom vra oor wat sy vrou en kinders gedink het oor sy verskyning in ’n rolprent, antwoord hy skamerig dat hulle mal daaroor was.

Boonop sing die platinumverkoper-kunstenaar die titelsnit van die rolprent, Nooit Alleen, saam met Leah en die liedjie het reeds die nommer 1 posisie op radiostasies se trefferslyste regoor die land bereik.

Kyk die musiekvideo van Nooit Alleen hier:

Susters word landwyd op 30 Maart uitgereik en beloof om een van daardie goedvoel rolprente te wees, en boonop in Afrikaans, wat mense vir lank aan die praat gaan hê.