Daar is niks so lekker soos ’n koue bier na ’n lang, warm dag nie. Vra maar vir bierbrouer Ampie Kruger en sy reisiger-makkers Johan Badenhorst (bekend vir die reeks Voetspore) en Johan Bakkes.
Elke Vrydag, om 20:00, kan jy inskakel op Via om saam met hierdie driemanskap na die perfekte craft-bier te soek in die TV-reeks Dors. Hulle gaan deur die Wes-Kaap (waar dit ontstaan het) reis en verskillende mikrobrouerye besoek. Hulle reis na verskillende plekke soos Greyton, Stanford en Botrivier, proe en vergelyk talle verskillende biere en leer meer oor die bestemmings se geskiedenis. “Om die uniekste bier saam met unieke geregte te geniet, is beter as wyn.”
Bakkes sien homself nie as ’n bierkenner nie en bieg dat hy maar gewoonlik winkelbier koop. “Die goue vog is ’n reis van sy eie. Die broumeesters wat ons besoek het, doen dit omdat dit hulle passie is. Ek is genooi om deel te neem aan die program sodat ek oortuig kan word oor hoe goed die betrokke bier is. Ek speel so half duiwelsadvokaat. Ek is eintlik bevoorreg om op televisie te proe.”
Hulle glo ook hulle het die perfekte Afrikaanse woord vir craft-bier gekry, en dit is nie boetiekbier nie, maar vakmansbier! “Dis immers ’n vakman wat daaraan werk, en dit word behoorlik bewerk,” meen Johan.
Daar is ook ’n sanger wat optree in elke episode, van Valiant Swart tot Spoegwolf. Hierdie reeks het werklik iets vir almal.
Moenie Dors misloop nie. Die reeks begin vanaand om 20:00 op Via.