Kaartjies vir Classics, wat hierdie winter in Pretoria aangebied word, verkoop soos soetkoek en gaan weer eens gehore in vervoering te hê met kunstenaars soos Patrizio Buanne, Monique Steyn, Amira Willighagen, Touch of Class, Jannie Moolman, Corlea en Kevin Leo wat die verhoog deel.

 

Die publiek gaan moet spring om kaartjies na dié musikale extravaganza te kry en boonop ook die kans te staan om ’n prys, wat ’n luukse bederf van R35 000 behels, los te slaan.

 

Diegene wat kaartjies voor 25 Mei bespreek, staan die kans om vlugte, ’n spoggerige Lexus-aanrydiens, vyfster-verblyf by The Maslow Times Square Hotel, aandete én ’n casino-bewys te wen vir ’n groep van vyf paartjies. Boonop gaan die wengroep ook agter die verhoog met al die kunstenaars skouers skuur.

 

Gehore kan hulself regmaak vir ’n toer deur die eeue met treffers van musiek-ikone oor die afgelope eeue wat vertolk gaan word soos nooit vantevore nie. Musiek van Bon Jovi, Andrew Lloyd Webber, Cyndi Lauper en Evanescence gaan gehoor word asook verwerkings van ABBA, Elton John en Queen se grootste treffers.  

“Vanjaar is daar selfs uittreksels uit The Greatest Showman, die rolprent op almal se lippe en die legendariese The Lion King,” sê Barry Pretorius, kreatiewe regisseur van Classics.

Die bekende internasionale sanger Joseph Clarke, bekend vir sy briljante vertolking van Freddie Mercury (Queen at the Opera), Tarryn Lamb, deel van die groep Blackbyrd en die kranige klavierspeler Charl du Plessis is almal op die verhoog te sien.

Stèfan Bezuidenhout, die nuwe kinderster waaroor almal praat, gaan ook in aksie wees.

 

Classics word vir die eerste keer in die Sun Arena aangebied op Saterdag, 9 Junie om 13:00 en 19:30. Besoek Facebook (@AfrikaansisGroot), Twitter (@AfrIsGroot) en Instagram (@afrisgroot) om op hoogte van die jongste nuus te bly.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers-, House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000. Besprekings kan ook aanlyn gedoen word by online.computicket.com.