Die Stella-moorde wat Vrydagnag plaasgevind het, het die hele land tot stilstand geruk. Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) is Saterdagoggend dood in die Stella-koshuis aangetref.

 

Toe die koshuismatrone Saterdagoggend die meisies, wat in die koshuis oorgeslaap het, wou gaan wakkermaak, het sy Sharnelle se lyk aan die koshuistrap se reling sien hang. Marna se lyk is later deur die polisie in die badkamer gevind. Die meisies het glo die matrone gevra om die deur van die koshuis oop te los, omdat iemand vir hulle sou netbalklere bring wat hulle benodig het vir hulle sportdeelname die Saterdag.

 

Daardie aand is Sharnelle se ekskȇrel, 19-jarige Xander Bylsma, in hegtenis geneem op aanklagte van moord. Mercia Bylsma, die verdagte se ma, het Maandagmiddag gesȇ dat haar kind nie ‘n demoon is nie en dat die Here nie ‘n fout met hom gemaak het nie. Xander word op sy Facebook gesien met verskeie diere, onder andere jakkalse, wat hy doodgeskiet het, met ‘n geweer in die hand.

 

Die nadoodse ondersoek wys dat die vriendinne albei gewurg is, sȇ lt. Kol Amanda Funani, provinsiale woordvoerder van Noordwes, nadat die lykskouings gefinaliseer is. Xander het hulle glo met sy hande verwurg en toe probeer om dit soos selfmoord te laat lyk.

 

Die vriendinne word Vrydagoggend saam begrawe by die NG Noord gemeente in Vryburg.