Net betyds om Vadersdag daai ekstra bietjie spesiaal te maak is die nuutste enkelsnit deur Elvis Blue, genaamd Die Hartklop van ‘n Pa. Herhaaldelik erken vir sy besonderse liedjieskryf vermoë, met nog ‘n Ghoema juis vir hierdie talent by sy groeiende versameling verower in 2018, is daar niemand beter om sulke diep emosies te verwoord as Elvis nie. Self ‘n ikoniese familieman en pa, het die skryf van hierdie liedjie Elvis na aan die hart gelê:

“Ek het gewonder wat ek vir my kinders sou wou sê as ek nie meer by hulle kon wees nie. Dit is waaraan ek gedink het toe ek hierdie liedjie geskryf het. Ek wou graag ‘n klank gee aan hoe ek voél oor my kinders, en hierdie is wat uitgekom het! Ek het ook aan my eie ouers gedink en my ervaring van hulle ouerskap probeer vasvang in hierdie liedjie. Almal se ouers is nie dieselfde nie, party van ons het goeie ouers gehad, ander nie. Maar hoe klink die hart van ‘n goeie Pa? Om dít te verwoord is waarvoor ek gemik het!”

Die nuwe enkelsnit is vanaf Junie op radio tehore, en die musiekvideo word op Vadersdag, 17 Junie 2018 vrygestel om hierdie dag te vier. Elvis Blue aanhangers het reeds deelgeneem aan die uitbeelding van ‘n pappa-hart toe hulle op Elvis se versoek honderde videos op sosiale media gedeel het wat die liefde van pappas teenoor hulle kinders uitbeeld. Hierdie is die eerste enkelsnit vanaf Elvis se nuwe album, wat op 23 Julie beskikbaar sal wees.