Thys en Trix is ’n Afrikaanse komedie wat tans in teaters te sien is en mense laat skaterlag. In die rolprent speel Bouwer Bosch en Leandie Du Randt Bosch (getroud in die regte lewe) broer en suster en hulle is ook ywerige, maar hopeloos onbeholpe polisiemanne.

 

In die storie het ’n onderlangse twis tussen broer en suster veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens wéér in die verleentheid stel. Speurder Solomons (Brendon Daniels) ondersoek die bedrywighede van ’n misdaad-sindikaat in ’n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai. Vanweë hulle ‘vanilla-voorkoms’ word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ’n ondersoek te lei, of eerder te laat ly, maar die feit dat hulle moet voorgee om ’n getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie.

 

Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die butler gaan wees nie. Is enige van Thys en Trix se nuwe bure moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC, ’n verlammende hallusineringsmiddel?

Thys & Trix wys nou in teaters landwyd asook by verskeie Ster Kinekor-, Nu Metro- en onafhanklike teaters. Gaan sien dit nou. Dit sal jou laat skaterlag!

The Film Factory & Bouwer Bosch Films is die produksiehuise, Quentin Krog is die regisseur en die vervaardigers is Danie Bester, Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch.