Mej. Madeliefie Makietie soek pragtigste dames

Vanjaar se immergewilde Madeliefie Makietie-fees word vir die tweede keer op die pragtige stranddorp, Strandfontein, aangebied. Jy kan uitsien na tien van ons land se top-kunstenaars wat jou behoorlik gaan laat dans, van ons streek se heerlike wyne, skemerkelkies en bier wat jy kan geniet en ’n verskeidenheid van stalletjies om van te kies en keur. Maak seker jy teken Vrydag, 26 en Saterdag, 27 Oktober in jou dagboek aan.

“Ons is baie bevoorreg om op die pragtige Juweeldorp, Strandfontein, fees te kan hou – ons het die see, stalletjies en trots Suid-Afrikaanse musiek. Nêrens in Suid-Afrika sal jy ’n mooier fees as hier in die Namakwa-Weskus kry nie,” sê Cindy Schade, woordvoerder van die Madeliefie Makietie-fees.

Nie net kan jy uitsien na jou gunsteling kunstenaar wat jou behoorlik gaan dans laat nie, of die heerlikste drankies en kos wat jy kan geniet nie, maar daar is ook verskeie opwindende aktiwiteite waarna jy as feesganger kan uitsien voor en tydens die fees.

Mej. Madeliefie Makietie

Dit is weer amper tyd vir die dames in die Matzikama-streek en omliggende areas om hul loopplankpassies gereed te kry vir die Mejuffrou Madeliefie Makietie-kompetisie wat op Donderdag, 27 September, om 19:00 by die sportsaal op Vredendal sal plaasvind.

“Ons is op soek na pragtige dames van die Kaap tot Calvinia om hul talente na vore te bring tydens die Mej. Madeliefie-kompetisie. Die feeskomitee gaan drie diamante vir 2018 kies om Madeliefie Makietie te verteenwoordig,” voeg Schade by.

Die kaartjies vir die kroningsgeleentheid beloop R250 per persoon met ’n ete ingesluit. Die tema van die geleentheid is The Great Gatsby en die kleredrag is soos uit die laat 1920’s. Die gewilde hartebreker Jay is die gaskunstenaar wat die gehoor deur die loop van die aand gaan vermaak. As jy dié geleentheid wil bywoon en jou kaartjie wil koop, kan jy gerus Optika Oogkundiges, geleë in die Maskam Mall, besoek en jou kaartjie vir die glansgeleentheid daar kry.

As jy wil deelneem aan Mejuffrou Madeliefie Makietie, meer oor die reëls van die kompetisie wil lees en ook die inskrywingsvorm wil voltooi, klik op die volgende skakel: madeliefiemakietie.co.za/mej-madeliefie-makietie/

Maltrap-fietswedren en Stoptrap

Indien jy daarvan hou om fiets te ry en die natuur te bewonder, dan moet jy seker maak om deel te neem aan die gewilde Maltrap-fietswedren wat op Saterdag, 27 Oktober tydens die Madeliefie Makietie plaasvind. Die splinternuwe Stoftrap, beter bekend as die Colour Run, word ook op die Saterdag aangebied. Albei hierdie geleenthede word deur die Hansie en Grietjie-kleuterskool aangebied. Die Maltrap en Stoftrap is een inskrywing maar jy as deelnemer kan kies of jy albei of net een wil doen. Indien jy wil deelneem of vir meer inligting oor hierdie opwindende aktiwiteite, kan jy gerus vir Esther Sawyer kontak by 083 872 8087.

Jaco du Toit van die Madeliefie-bestuur sal ook saam met die organiseerders van die Maltrap en Stoftrap werk met die logistieke reëlings en om die Madeliefie Makietie-program uiteen te sit.

Weskus-raakrugby

Nog ’n opwindende aktiwiteit om na uit te sien is die Weskus-raakrugbytoernooi wat ook tydens die fees plaasvind. Die wedstryde sal op Saterdag, 27 Oktober voor die lewensreddersgebou plaasvind. Jy kan jou span die oggend van 07:30 inskryf en inskrywingsgeld beloop R300 per span. Wedstryde sal plaasvind van 09:00 die oggend. As jy en jou makkers ’n span het, moet jy seker maak dat julle inskryf. Dit gaan beslis ’n naweek vol opwinding en verrassings wees. Daar wag ook opwindende pryse vir die wenspanne. Indien jy meer wil weet oor die raakrugby of as jy ’n span vir inskryf, kan jy Derick Lochner kontak by 083 366 0600.

Vanjaar se fees is beslis iets om na uit te sien. Ons loer bietjie na verlede jaar se fees en hoe die pragtige stranddorp Strandfontein in ’n feesterrein verander is.

Kyk gerus na die video hieronder:

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook, Twitter en Instagram. Besoek ook ons webtuiste by www.madeliefiemakietie.co.za om meer te lees.

Kry die volledige feesprogram by www.madeliefiemakietie.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers-, House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000. Met Earlybird-kaartjies kry besoekers die geleentheid om hul kaartjies tot 30 Julie teen ’n groot afslag te koop. Earlybird-kaartjieverkope is as volg:

Vir Vrydag, 26 Oktober:

⦁ Earlybird-kaartjies vir kinders R40 (7-17 jaar)
⦁ Earlybird-kaartjies vir volwassenes – R80

Vir Saterdag, 27 Oktober:

⦁ Earlybird-kaartjies vir kinders R50 (7-17 jaar)
⦁ Earlybird-kaartjies vir volwassenes – R110

Ná 30 Julie kos kaartjies vir die Vrydag R100 en vir die Saterdag R130.