Calvinia bied jou vermaak van ons land se top-kunstenaars

Vanjaar sal die Hantam Vleisfees vir die 29ste keer in die hartjie van die Hantam op Calvinia, aangebied word. Maak jouself gereed om te dans dat die stof staan. Jy sal soos oudergewoonte jou lippe kan afkou aan die heerlikste skaapvleis en die beste stalletjies kan ondersteun. Aktiwiteite vir oud en jonk sal beloof dat vanjaar se Hantam Vleisfees ’n bielie van ’n fees sal wees. Maak seker jy teken Vrydag, 24 en Saterdag, 25 Augustus in jou dagboek aan.

“Vanjaar se Hantam Vleisfees gaan ’n groot prikkel-prikkel, boudskud, vingerslinger, toonstoot, lekker kuier wees,” sê bekende sanger Deon Groot wat feesgangers by vanjaar se Hantam Vleisfees gaan vermaak.

Dit is inderdaad wat feesgangers kan verwag – ’n reuse kuier op Calvinia! Ons land se beste kunstenaars sal dié Hantam-dorpie vanjaar kom rooi verf met hul lekker danstreffers. Ricus Nel, Monique Steyn, Klipwerf Orkes, Hennie Jacobs, Schandry, Minya, Gert Koevert, Linda Killian, Dillon Lerm, Deon Groot, Christo en Cobus, Stephan van Zyl, Luhann Groenewald en Mari Bosman sal sorg dat jy nie vir een oomblik verveeld is by die Hantam Vleisfees nie. Stof solank jou dansskoene af en maak gereed om die pad na Calvinia te vat.

Dillon Lerm vertel ook op sosiale media: “Maak jou datum vas vir 24 en 25 Augustus en kom kuier saam met my by die Hantam Vleisfees 2018.”

Dit is egter nie net ons land se groot name wat sal sorg vir hope vermaak nie – die menigte aktiwiteite waaraan feesgangers kan deelneem, sal ook sorg vir groot pret. Mej. Vleisfees sal die vroue van die streek weer die geleentheid gee om hul mooiste draaie op die loopplank in die gholfsaal op Donderdag, 23 Augustus te kom gooi. Daar sal ook ‘n sterkman-kompetisie wees waarby die manne hul spiere kan bult om mee te ding vir groot pryse. Jonk en oud kan ook nader staan vir die immergewilde veteraan trekker- en motorvertoning. Dis net ’n paar van die opwindende aktiwiteite wat jy kan geniet by vanjaar se Hantam Vleisfees. Skaapboere en diereliefhebbers kan ook nader staan vir die skaaphondvertoning.

As jy dink jy kan baie vleis eet, dink weer. Daar word jaarliks vleis by die kilogramme verorber by die alombekende vleiseet-kompetisie. Die Hantam Vleisfees het weer vanjaar vir die avontuurlustiges voorsiening gemaak. Die Hantam Vastrap-bergfietswedren en die Hantam Vleisfees-pretloop sal sorg dat aktiewe persone glad nie ’n tekort aan vermaak het nie.

Dans, dans, dans dat die stof so staan. Dis presies wat die gewilde rieldansers by die fees sal doen. Hul bekende danspassie is iets wat jy nie mag misloop nie. Die tamboermeisies van Laerskool Calvinia sal jou ook kom vermaak. Jy sal ook self kan dans dat jy behoorlik uitasem is op heerlike musiek van ons land se kunstenaars. By die Hantam Vleisfees sal jy nie ’n tekort aan vermaak hê nie.

Mariaan de Jong is een van die feesgangers wat verlede jaar geregte by die Hantam Vleisfees baie geniet het. “Kos was heerlik en bekostigbaar. Die lamskerrie en skilpadjies was besonders lekker. Musiek was lekker en mense was vriendelik en baie gesellig. Volgende jaar maak ons weer so!” sê sy.

Vanjaar kan daar weer aan ’n oorvloed vleis gesmul word. Vir ontbyt, middagete en aandete kan jy smul aan die sappigste Hantam-skaapvleis. Skaapkop, skilpadjies, kliprib en natuurlik gebraaide skaaptjops sal beskikbaar wees by elke tweede stalletjie om die hongerpyne te stil.

Jacques van Wyk kon nie genoeg kry van die kosstalletjies by verlede jaar se Hantam Vleisfees nie en hy sê die volgende: “Dit is voorwaar lekker om daar ’n vleisie te koop, mens moet van alles probeer, die kliprib is baie lekker.” Dis natuurlik wat die Hantam-streek so uniek maak – sy lekker skaapvleis.

Elsa van der Westhuizen, wat verlede jaar se Hantam Vleisfees besoek het, sê: “Die lekkerste skaapvleisprodukte, baie om te eet. Van skaapkop tot skaapstert.”

Jy mag beslis nie vanjaar se Hantam Vleisfees misloop nie. Calvinia sal gevul wees met pret, plesier en iets wat elkeen sal geniet.

Besoek www.hantamvleisfees.com vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies sal slegs by die hekke te koop wees. Op Vrydag, 24 Augustus kos die kaartjies vir volwassenes R50 en R20 vir kinders. Op Saterdag, 25 Augustus kos die kaartjies vir volwassenes R100 en vir kinders R50.

Bly op hoogte van die jongste Hantam Vleisfees-nuus op Facebook (www.facebook.com/CalviniaVleisfees/), Twitter (https://twitter.com/) en Instagram (www.instagram.com/hantamvleisfees/).