Die lekkerste vleis, top-kunstenaars en vele ander vermaak

 

Die tyd stap nader en die pragtige Noord-Kaapse dorp Calvinia trek al sy vere gereed om een van Suid-Afrika se top-feeste aan te bied. Die Hantam in sinoniem met skaapvleis en hiervan gaan daar ’n oorvloed by die fees beskikbaar wees, en in elke moontlike vorm – van gebraai, in bredies, gekerrie, in ’n pot, op ’n stokkie tot selfs die ietwat ongewone, maar smullekker skaapkop.

 

Van Vrydag, 24 Augustus tot Saterdag, 25 Augustus kan feesgangers die lekkerste vleis eet, top-kunstenaars sien en allerlei ander vermaak geniet.

 

Ma, pa, oupa en ouma en die kinders sal nie vir een oomblik wil stil sit nie. Vanjaar vind die fees vir die 29ste keer plaas en ’n onvergeetlike kuier is gewaarborg. Terwyl jy dans dat die stof staan op musiek van Ricus Nel, Monique Steyn, die Klipwerf Orkes en vele meer, kan jou kinders baljaar op die springkasteel met hul gesiggies kleurvol geverf.

 

Ricus Nel sê met entoesiasme: “Ek kan nie meer wag om vanjaar by die Hantam Vleisfees te kom kuier nie. Julle moet asseblief al julle vriende bring want ons gaan daardie aand vreeslik lekker kuier.”  Hierdie gewilde sanger sal van sy bekende treffers kom sing. Monique Steyn se talente sal ook behoorlik skitter by die Hantam Vleisfees terwyl sy jou op jou voete sal hê by die hoofverhoog. Monique sê: “Ek is vreeslik opgewonde om daar vir julle te kom musiek maak. Dis net so voor die lente sy verskyning maak. Kom gerus na vanjaar se Hantam Vleisfees op Calvinia.”

 

Alle mans kan naderstaan om hul spiere te bult by die sterkman-kompetisie op Saterdag, 25 Augustus om 14:30. Benjamin Swanepoel, wat verlede aan die sterkman-kompetisie deelgeneem het, sê: “Ek het elke oomblik geniet en kon met gemak ’n trekkerband rol! Elkeen moet deelneem. Dit was ’n wonderlike ervaring.” Daar het jy dit. As jy ’n spiertier is, is hierdie kompetisie vir jou.

 

“Die Hantam Vleisfees is my jaarlikse bederfie,” reken Annemarie Gelderblom, ’n getroue feesganger van hierdie gewilde fees.

 

Die vleiseet-kompetisie bied besoekers die geleentheid om mes en vurk sommer weg te gooi en weg te lê aan soveel skaapvleis as wat jy kan. Wys jou vriende wie is baas en neem deel aan hierdie vleiseet-kompetisie wat op 25 Augustus om 14:00 sal plaasvind. Vleisliefhebbers sal beslis nie sukkel om ’n sappige skaaptjop tot op die been af te eet nie.

 

Vleiseet en spierebult is nie al wat jy kan doen by die fees nie. Jaarliks word die pawiljoen by die Hantam Vleisfees volgepak met feesgangers wie nie kan wag vir die demonstrasie van die karkas-ontbening nie. Vanjaar se demonstrasie word deur Huibrecht Taljaard aangebied.

 

Die vure sal brand en die lieflike reuk van vars gebraaide skaapvleis sal oor die hele feesterrein hang. Om elke hoek en draai sal jy ’n ander lekkerny te ete kry. Skaapkop is een van die geregte wat terdeë deur feesgangers geniet kan word. Skaapstertjies en die immergewilde klirib is jaar na jaar absolute treffers by die Hantam Vleisfees.

 

Terwyl die vure brand, kan jy die kliprib-braaidemonstrasie by die Karoo-stalletjie kan geniet. Ribbetjies het nog nooit so lekker gesmaak soos wat daar al in die verlede by hierdie fees voorberei is nie. Louis Massyn, wat al die kliprib geëet het, sê die volgende: “Hierdie was die lekkerste rib wat ek nog ooit geniet het. My mond water as ek nou terugdink aan die fees.”

 

Jou kinders sal beslis gou van hul oortollige energie ontslae raak. As hulle gaande is oor windbuks skiet, sal hulle die windbuks valplaat-skietgeleentheid baie geniet. Daar sal ook vanjaar weer ’n inkleurkompetisie wees waar die kreatiewe jongspan hulself kan uitleef. Op Saterdag, 25 Augustus mag jy nie die Mini Mej. Vleisfees om 11:00 en Mini Mnr. Spiere om 13:30 misloop nie.  

 

Daar iets wat ieder en elk by vanjaar se Hantam Vleisfees sal geniet. Jy sal jouself ’n guns doen as jy die pad vat na Calvinia.  Mariaan de Jong, wat verlede jaar se Hantam Vleisfees bygewoon het, het die volgende te sê gehad: “Ons het dit baie geniet! Die kos was heerlik en bekostigbaar. Die lamskerrie en skilpaadjies was ongelooflik. Musiek was lekker en mense was vriendelik en baie gesellig!”

 

Besoek www.hantamvleisfees.com vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies sal slegs by die hekke te koop wees. Op Vrydag, 24 Augustus kos die kaartjies vir volwassenes R50 en R20 vir kinders. Op Saterdag, 25 Augustus kos die kaartjies vir volwassenes R100 en vir kinders R50.

 

Bly op hoogte van die jongste Hantam Vleisfees-nuus op Facebook (www.facebook.com/CalviniaVleisfees/), Twitter (https://twitter.com/) en Instagram (www.instagram.com/hantamvleisfees/).