Early B, die bekende Suid-Afrikaanse rymkletser van Bloemendal in Port Elizabeth, ry tans ’n golf van sukses met sy innoverende musiekvideo’s wat hy self vervaardig en bemark, wat reeds meer as 400,000 keer gekyk is.

Dié Ghoema-wenner het reeds saam met van die grootste en mees bekende plaaslike kunstenaars en musiekvervaardigers gewerk en het deur sy positiewe ingesteldheid en vasberadenheid homself as ’n gesogte kunstenaar op nasionale sowel as internasionale vlak gevestig.

Augustus was ’n groot maand vir dié gewilde rymkletser, met die vrystelling van sy nuwe album, Aangename Kennis en sy nuwe enkelsnit, Ben Ten. Albei is beslis die luister werd en gaan ’n groot glimlag op jou gesig sit en ’n gewilde speellys by enige kuier wees.

Wat was die inspirasie vir die nuwe album en enkelsnit? “Die inspirasie was om die stories van Bloemendal te vertel, waarvan baie my eie is. Die album is ’n voorstelling van my musiek en my verskillende musiekstyle. Dit is stories waarmee ons almal kan relate, maar wat in Bloemendal met mense en met my gebeur het,” vertel hy.

“Ek wou myself met die album geniet en uitdruk, terwyl die luisteraar ook ’n baie goeie ervaring het. My doelwitte met Aangename Kennis is om die luisteraar op reis deur verskillende situasies en emosies te neem. Ek is ’n storieverteller en wil hê die luisteraar moet voel asof hy of sy van die wêreld kan wegglip terwyl hulle na my album luister,” sluit hy af.

Dié nuwe album is by Musica beskikbaar. Vir diegene wat daarvan hou om regstreeks na Early B te luister en saam te sing, hier is ’n lys van sy volgende paar optredes:
25 Augustus – Westering High School in Port Elizabeth
1 September – Rooikrans BDay Party saam Twinzspin op Vredenburg
7 en 8 September – Rocking Potch op Potchefstroom
15 September – Van Coke en Vriende in Pretoria

Moenie hierdie optredes misloop nie. Vir meer inligting besoek gerus die volgende skakel: www.earlybmusic.com